Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Helde bestaan nog. Dit is Dinsdagaand, 5 Junie bewys toe Danie du Toit sy buurvrou, Sonja Pretorius (50), vanuit haar brandende huis in Meentstraat, Heatherpark, gered het.
"Ek was in my motorhuis besig toe ek glas hoor breek en my buurvrou om hulp hoor roep. Ek het dadelik oorgehardloop en gesien sy is in haar huis vasgekeer. Ek het oor die tuinmuur gespring, die veiligheidshek oopgeforseer en haar uit die huis gehaal, maar weens skok kon sy nie oor die muur klim nie.
"Ek het 'n koevoet gaan haal en die muur stukkend geslaan waarna ek haar tot veiligheid kon bring. Dit is 'n lekker ervaring om te weet ek kon iemand help. Ek het nog nooit so 'n adrenaline rush ervaar nie," vertel Du Toit.
Volgens Du Toit was nooddienste vinnig op die toneel. Pretorius, wat alleen in die huis was, is deur ER24-paramedici na die George-hospitaal geneem waar sy vir rookinaseming behandel is. Haar voertuie kon gered word, maar die huis is ongelukkig in puin gelê en sy het al haar besittings verloor.
Die oorsaak van die brand is nog nie bevestig nie. Geen ander huise is in die voorval beskadig nie.
Enigiemand wat gewillig is om skenkings te maak kan Heartherpark-buurtwaglede, Chad Theron by 074 695 9690 of Nicky Hodsdon by 083 894 9333 skakel.
"Ons bedank graag Eden Lions wat ook aangebied het om klere te skenk," sê Theron.
Kyk 'n video hieronder:
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'