Gallery
GEORGE NEWS - Heinrich (Ollie) en Chanel Terblanche se beker loop oor, want hul klein wonderwerkie - 'n babaseuntjie - is hier.
Klein Lian het op Sondag 27 Februarie om 13:25 sy opwagting in die Mediclinic George gemaak. Hy het die skaal op 'n gesonde 3,68 kg getrek.
Vir dié jong paartjie wat al deur baie diep waters is, was dit 'n uiters emosionele oomblik. Heinrich het oor die afgelope sewe jaar met ysere deursettingsvermoë, gebed en onfeilbare ondersteuning van sy geliefde vrou weer begin loop, hoewel nog met 'n loopraam. "Ná Lian se geboorte is ek nou nog meer gemotiveerd om die genesing na te jaag," het hy aan George Herald gesê.
FOTOGALERY: Ollie se wonderwerk
Hy is in 2015 weens 'n rugbybesering verlam gelaat, maar het wonderbaarlik herstel. Die paartjie noem Lian hulle "wonderwerkie" omdat hy teen alle verwagting en doktersvoorspellings in, natuurlik verwek is.
Lian is met 'n keisersnit "op 39 weke en een daggie" gebore, drie dae voor sy oorspronklike keisersnitdatum op 2 Maart, vertel 'n stralende Chanel. Nadat sy die Saterdagaand kontraksies begin voel het, is hulle die volgende oggend hospitaal toe en die dokter se bevinding was dat Lian wou uitkom.
"Hy was 'n brugbaba, maar was baie gesond. Hy het maar net besluit om vroeër te kom. Dit was eintlik vir ons spesiaal dat Lian sy eie verjaarsdag gekies het. Die hele proses was vir my en Heinrich baie, baie emosioneel. Ons was rustig, maar die trane het geloop."
Lian, die Terblanche'e se 'wonderwerkie' wat sy ouers se harte laat oorloop van vreugde.
Heinrich sê die epiduraal was vir hom 'n sensitiewe oomblik omdat die wete helder by hom was dat Chanel vir 'n tyd lank soos hy was.
Chanel sê Heinrich was die heeltyd by haar. "Toe hulle vir Lian uithaal, was sy eerste woorde, 'Liefie hy't baie hare, daar's 'n bos hare aan hom', en onmiddellik het die trane begin loop. Die oomblik toe ons sy eerste huil hoor, was ons harte propvol. Toe kyk ek en hy net vir mekaar. Hy't my trane afgevee. Ons het vir mekaar gesê, 'Hy is uiteindelik hier, ons het dit gedoen, ons hartsbegeerte is vervul en ons wonderwerkie is hier'. Lian doen so goed en hy is gesond en sterk."
'n Deeltjie van sy oupa wat voortleef
Die naam Lian beteken 'God het geantwoord', maar dit het hulle eers uitgevind nadat hulle op die naam besluit het. "Toe het ons besef Lian is vir ons gekies en ons is so dankbaar dat Jesus hom vir ons gegee het en dat Hy ons gekies het as sy ouers."
Hulle is baie bly dis 'n seuntjie. Chanel het grootgeword met twee boeties en sy het nog altyd gedink sy is 'n "seuntjie-mamma".
"Omdat ons my pa verlede jaar aan Covid verloor het, is dit ook vir my 'n baie emosionele koppeling aan my pa, want ek voel dit is 'n stukkie van hom wat ook elke dag by my is."
Klein Lian sal mag rugby speel
Gevra of hulle Lian nie in watte wil toedraai na wat met Heinrich gebeur het nie, is Heinrich se mening Lian is sy eie mens en hulle sal hom ondersteun in alles wat hy aanpak.
Chanel sê hulle was albei geweldig sportief en hoop Lian sal ook lief wees vir sport. "As rugby iets is waarvoor Lian lief gaan wees, gaan ons nie vir hom sê hy mag dit nie doen nie. Hy gaan definitief verstaan hoe sy pappa seergekry het, maar ons gaan hom nie in vrees grootmaak nie."
Bederf en doeke ruil
Chanel sê die hele familie is geweldig opgewonde oor Lian. "Hy is meer deur die familie bederf as deur my en Heinrich. Nog voor die 27ste was al sy goedjies reg vir hom om te kom. Hy't meer klere as ek en Heinrich saam, so ek speel so lekker pop om seker te maak dat ek foto's kry in al sy kleertjies voordat hy dit uitgroei."
Heinrich help met alles - badtyd, doeke ruil, en om Lian aan te trek. Die paartjie het vooraf aanpassings in die huis gemaak sodat Heinrich Lian gemaklik sal kan hanteer, want tuis beweeg hy meer in die rolstoel rond. "Die oomblik toe ons huis toe gekom het, was dit asof als net natuurlik ingeskop het. Heinrich is ongelooflik goed met Lian. Hy kry dit baie beter reg om sy winde uit te kry as ek. Ek dink dit is omdat hy sulke groot hande het en hom so lekker kan vashou."
'n Stralende Chanel met haar baba van 3,68 kg.
Oefenprogram
Die paartjie, wat getrou saam gimnasium toe gaan omdat oefening noodsaaklik is vir Heinrich se herstel, het deeglik vooraf beplan sodat hy tuis sal kan oefen. Wanneer Chanel weer kan bestuur en self weer mag oefen, sal hulle weer hul gimnasiumprogram hervat, en Lian sal hulle vergesel.
Herstelpad
Heinrich sê hulle vat sy pad na genesing dag vir dag. "Ek voel nou ek het nog meer doelwitte met Liantjie hier. Net dat hy my eendag sal kan sien loop, sal vir ons als beteken. Ek sou verlede jaar vir nog 'n stamseloorplanting gegaan het, maar dit is weens Covid uitgestel na vanjaar. Ons sien so daarna uit en dan kyk ons om moontlik einde vanjaar of volgende jaar vir neurofisiese behandeling in Australië te gaan. Ons wil net wag tot Lian 'n bietjie ouer is sodat hy saam kan reis. Die spesiaalste oomblik sal vir ons wees as ek eendag na hom toe kan aangestap kom soos wat ek verwag hy as baba nog na my toe gaan loop."
Heinrich Terblanche, 'n dankbare en trotse pa wat meen dis 'n voorreg om te help winde uitvryf en doeke ruil.
Vorige artikels:
- 'n nuwe vuur in Henrich se hart
- Geldinsameling vir Ollie
- Help geld insamel vir Ollie
- Ollie in wolke oor maagspiere
- Verlamde rugbyspeler in wolke oor maagspiere
- Ollie dans op sy troue
- Ollie dans met sy bruid
- Rugbyspeler kan weer loop
- 'Verlamde' rugbyspeler wen droomtroue
- Verlamde rugbyspeler leer loop
- Rugbyspeler se gees sterker as besering
- Update: Young rugbyplayer paralysed
- Belowende jong rugbyspeler verlam
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'