Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die voormalige SWD Arende rugbystut, Heinrich (Ollie) Terblanche, is in die wolke oor twee van sy maagspiere wat ewe skielik weer begin werk het, drie en 'n half jaar nadat hy op die rugbyveld by Outeniquapark weens 'n besering tydens 'n wedstryd verlam is.
Ollie se nek was heeltemal af by werwels C6 en C7, maar vurige gebed van familie en vriende en volharding met 'n streng daaglikse oefenprogram in die gimnasium saam met sy vrou, Chanel, 'n onderwyser, het gemaak dat Ollie vandag baie meer kan doen as wat dokters voorspel het, naamlik dat hy nie eens sy arms sou kon gebruik nie.
Hy kan kort entjies met krukke loop, hoewel hy nog nie sy voete behoorlik kan optel nie en steeds afhanklik is van 'n rolstoel.
"Ons kom nooit by die gimnasium aan met die rolstoel nie, so wanneer mense ons in die Mall sien en Ollie sit in 'n rolstoel, skrik hulle," glimlag Chanel. "Hoewel hy ongelooflik gevorder het en kenners op die gebied van hierdie tipe beserings verstom is oor sy beweeglikheid, is daar nog baie liggaamsfunksies wat hy nie het nie."
Dit was dus vir hulle 'n ongelooflike oomblik toe Ollie een oggend in Maart wakker word en besef dat hy maagspiere kon voel. Dit was enkele maande nadat hy 'n vierde stamseloorplanting in Januarie gehad het.
Ollie verduidelik dat 'n mens nie jou balans maklik hou sonder maagspiere nie. "Nou kan ek langer staan soos wanneer ek tande borsel en makliker oefen. Ek kan self uit die bad klim waar Chanel my voorheen moes help, en ek trek makliker aan. Dit klink soos klein goedjies, maar dit maak vir ons 'n enorme verskil. Dit is my begeerte om eendag my eie kleintjie te kan optel en ek sal graag dinge vir Chanel wil doen soos om goed kar toe te dra of die vullissak uit te vat," sê Ollie. Hy kan nie uitgepraat raak oor hoe sy hom bystaan nie. "Die wonderlikste in my lewe is Chanel se onvoorwaardelike liefde en die ongelooflike ondersteuning wat sy my gee."
Kyk 'n video hieronder:
Chanel, wat verlede jaar in Januarie tydens 'n sprokiestroue vir Ollie die jawoord gegee het, se oë blink. Sy wil graag langs hom kan loop terwyl hulle hande vashou. "Op die oomblik haak ek net 'n vinger in by sy hand wanneer hy met die krukke loop," sê sy.
Danksy die stamselbehandelings is daar nou weer nuwe hoop vir meer uitgebreide herstel. 'n Biokinetikus by die Sportweten-skapsinstituut in Kaapstad het vir hulle gesê sy liggaam kan nog baie gebruik terugkry, daarom wil hulle nog 'n stamseloorplanting probeer.
Ons hoor van baie suksesstories met die behandeling. Hoe meer 'n mens dit herhaal, hoe beter is die kanse op herstel."
Die twee volg 'n streng natuurlike dieet sodat die behandelings optimaal kan werk. "Die stamselle beweeg na al die plekke waar herstel in die liggaam nodig is, so ons probeer inflammasie in sy liggaam beperk wat help dat die meeste selle dan na sy beseerde nek beweeg. Ons is baie hoopvol dat nog behandelings 'n positiewe effek sal hê." Die koste van R160 000 per behandeling is egter nie vir hulle haalbaar binne die afsienbare tyd nie, hoewel hulle soveel as moontlik spaar. "Indien daar enigiemand is wat 'n bydrae kan maak, hoe klein dit ook al is, sal ons dit uit die diepte van ons hart waardeer. Ollie baklei so hard en hy motiveer en inspireer soveel mense.
Ons is so opgewonde oor die twee maagspiere wat weer werk en glo dat verdere herstel sal plaasvind met nog 'n behandeling."
Ollie Terblanche ontvang 'n stamselbehandeling.
Met 'n rugbyloopbaan wat van die baan is, het Ollie begin om homself te bekwaam as persoonlike afrigter asook kondisionering en sportafrigting. Met die plaaslike koffiekultuur wat gedy, het hy ook 'n klein tuisonderneming begin wat 'slim' elektroniese koffiemasjiene en koffiebone vir 'n Duitse handelsmerk versprei.
'n Trustrekening is vir die doel van skenkings geopen.
Meer besonderhede is beskikbaar by Amandi Terblanche by 083 659 8470 of amandi@consumerassure.co.za.
Klik hier vir vorige artikels:
- Verlamde rugbyspeler in wolke oor maagspiere
- Ollie dans op sy troue
- Ollie dans met sy bruid
- Rugbyspeler kan weer loop
- 'Verlamde' rugbyspeler wen droomtroue
- Verlamde rugbyspeler leer loop
- Rugbyspeler se gees sterker as besering
- Update: Young rugbyplayer paralysed
- Belowende jong rugbyspeler verlam
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'