Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die geldinsamelingspoging by die onlangse George Landbouskou vir die voormalige SWD-rugbyspeler Heinrich (Ollie) Terblanche was 'n groot sukses.
'n Goeie begin is gemaak deurdat 'n totaal van R8 000 in te samel en danksy nog bydraes agterna, staan die totaal nou op R13 000. Die geld is vir nog 'n stamseloorplanting vir Ollie wat 'n paar jaar gelede verlam is weens 'n rugbybesering. Hy het mense verstom met die mate waartoe hy herstel het.
Dokters het gesê hy sal nie weer kan loop nie, maar hy kan deesdae kort entjies met krukke oor die weg kom. Hy het verbetering begin toon ná 'n aantal stamseloorplantings en het die gebruik van twee maagspiere herwin enkele maande nadat hy sy vierde stamseloorplanting vroeër vanjaar gehad het.
Dit het die hoop laat opvlam dat opvolgbehandelings verdere verbetering sal meebring. 'n Enkele behandeling kos R60 000 en Ollie en sy vrou, Chanel kan nie verdere behandelings bekostig nie.
Ollie se verhaal van volharding en die paartjie se onblusbare geloof vir beterskap het Quinten Wagner, eienaar van 'n plaaslike videografieonderneming, Selvid, geïnspireer om die geldinsamelingsinisiatief te begin. Hy het 'n lootjiekompetisie by die skou aangebied.
"Ons het ver gekom maar nog nog nie ver genoeg nie en ek sal nie stop tot Ollie vir nog 'n stamselbehandeling gegaan het nie," sê Wagner. Enigiemand wat op enige manier wil help, kan hom bel by 062 421 8803.
"Ek kan nie in woorde beskryf hoe gelukkig Ollie was oor die insameling nie en hoe baie dit vir hom beteken het nie, en al wat dit my gekos het, was tyd. Dankie aan almal wat kaartjies gekoop het, al die wonderlike borge, die George Herald vir publisiteit en die gemeenskap van George wat met oop harte en hande gegee het."
Ollie kon nie by die tjekoorhandiging by die skou wees nie, maar kyk die video hieronder waar hy vir almal dankie sê.
Pryswenners
Die pryswenners was Lorinda Jooste (R10 000 se prys), Chanel en Dave van der Westhuizen ('n naweek by 'n vyfstergastehuis in Blouberg), Inge Voigt en Johan van der Merwe (albei van Le Grand Estate), Janine Pretorius (Skoenboksprojek) en Heather Church (Tuinroete DBV).
Die besighede wat pryse geborg het, is Niqua Security, Dykes van Heerden South Cape, VRTLY, Realty 1, en Selvid en Wagner Photography.
Talle groot pryse was op die spel in die lootjiekompetisie. Chanel en Dave van der Westhuizen ontvang hulle prys - 'n naweek in 'n vyfstergastehuis in Blouberg - van Quinten Wagner (regs).
Michael Supra (middel) het die geld wat ingesamel is namens Heinrich Terblanche ontvang van Riaan Britz (links) van Realty 1 en Quinten Wagner van Selvid.
Klik hier vir vorige artikels:
- Help geld insamel vir Ollie
- Ollie in wolke oor maagspiere
- Verlamde rugbyspeler in wolke oor maagspiere
- Ollie dans op sy troue
- Ollie dans met sy bruid
- Rugbyspeler kan weer loop
- 'Verlamde' rugbyspeler wen droomtroue
- Verlamde rugbyspeler leer loop
- Rugbyspeler se gees sterker as besering
- Update: Young rugbyplayer paralysed
- Belowende jong rugbyspeler verlam
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'