GEORGE NUUS - 'n Halfweghuis vir haweloses in George is stadig besig om vorm aan te neem.
Tydens die algemene jaarvergadering van die Christian rehabilitation ministry to homeless of George (Cremhog) verlede Woensdag het 'n sakeman aangebied om vir die volgende vyf maande elke maand R45 000 te skenk vir die aankoop van skeepsvraghouers. Hierdie was een van 'n paar kosbare oomblikke tydens die vergadering het ds. Johan van der Merwe, voorsitter van Cremhog, gesê.
Cremhog is 'n plaaslike organisasie wat fokus op hulpverlening aan haweloses, of bosslapers, soos hulle soms bekend staan. Volgens Van der Merwe is belangrike vordering die afgelope jaar onder leiding van André Olivier en 'n span medewerkers gemaak.
"Ons ontvang geldelike ondersteuning van 'n klompie baie getroue donateurs, waaronder sekere gemeentes, ander instansies en 'n paar individue," het hy gesê.
"George-munisipaliteit beskou ons organisasie nou beslis as hul vennoot met opheffingswerk onder hierdie randfigure." Die munisipaliteit het onlangs 'n stuk grond aan die onderpunt van Markstraat beskikbaar gestel waar Cremhog 'n skuiling wil oprig.
"Nou is die plan dat ons 'n paar gemodifiseerde skeepshouers sal aankoop wat dan vir slaapgeriewe en ook 'n kantoor benut kan word. Die doel is dat hierdie plek van hoop as 'n tipe halfweghuis funksioneer vanwaar mense deur onder meer pastorale hulp en vaardigheidsopleiding gehelp sal word om weer hul pad terug te vind na 'n menswaardige bestaan."
Hierdie vorm deel van die proses om haweloses uiteindelik in die samelewing te herintegreer.
Volgens Van der Merwe is hulle heelwat uitdagings te wagte, ook op finansiële gebied. "Die vergadering het egter 'n stewige hupstoot vorentoe gebied wat ons nog lank sal bly bemoedig," het hy gesê.
Tans is NGK George-Suid en NGK Bergsig betrokke by die projek. Volgens die projekkoördineerder, André Olivier, benodig Cremhog borge om die inisiatief te dryf.
"Met die sakeman se bydra sal ons die skuiling teen 30 Junie in werking kan stel. Dit was ons droom," het Olivier gesê.
"Die slaapgeriewe is nou verseker, maar daar is ander aspekte wat dringend aandag kort." Hierdie sluit in die oprigting van toilette en badkamers, die inrig van 'n klein kombuis en 'n beskermde onderdakarea waar vaardighede beoefen en geleer kan word.
"Ons wil ook gras plant vir 'n rekreasiearea en 'n groentetuin begin," het Olivier gesê. Gebruiksartikels, toiletware en materiaal om stokperdjies mee te bedryf word ook benodig. Vir inligting oor die projek kontak die André Olivier by 082 551 8900 of stuur 'n e-pos na andre.olivier1962.gmail.com.
Lees vorige artikels:
- Halfweghuis vir haweloses in pyplyn
- Green light for homeless shelter
- Holistic plan for homeless proposed
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'