GEORGE NUUS - Die jaarlikse toekenningsgeleentheid van die Forum of Community Journalists (FCJ) het Vrydagaand 14 Oktober tydens 'n luisterryke geleentheid by Birchwood Hotel & OR Thambo-konferensiesentrum in Johannesburg, Gauteng plaasgevind.
Eugene Gunning, 'n joernalis van George Herald, het die tweede plek verower in die afdeling rubrieke.
Gunning het 'n besondere slag met rubriekskryf vanuit 'n politiese milieu wat hy verhalende wyse, soos die muse hom inspireer, deur die rubriek, Second Voice of Tweede Stem oordra.
Sy jare lange ondervinding as parlementêre verslaggewer het 'n magdom staaltjies meegebring wat lesers dikwels terugneem op 'n reis deur ons land se geskiedenis.
Kommentaar van die beoordelaars prys sy vermoë om oor kwessies van nasionale en plaaslike belang te gesels.
Blake Linder van Knysna Plett Herald het die vyfde plek in dieselfde afdeling verower.
Linder was ook onder die toptien in die nuus, sport en algemene fotografie afdelings.
Knysna-Plett Herald redakteur, Chris du Plessis en senior bladuitlegkunstenaar en grafiese kunstenaar, Periëtte Nel was onder die toptien in die afdeling vir beste voorblad.
Pryswenners en finaliste van die Forum of Community Journalists se jaarlikse toekenningsgeleentheid.
Gunning het gesê dit was 'n voorreg om die geleentheid by te woon en erkenning te kry.
"Die standaard was hoog en dit was 'n belewenis om met ander kollegas van die gemeenskapsjoernalistiek te kon skouers skuur. Gemeenskapsjoernalistiek is die hart van joernalistiek," het Gunning gesê. "Ek het tydens die geleentheid opnuut weer bewus geword van die belangrike rol van gemeenskapskoerante. Nie net verseker hulle dat gemeenskappe ingelig bly nie, maar hulle help ook om vryheid van spraak uit te bou."
Hy geniet die joernalistiek en het Group Editors bedank vir die geleentheid om die besonderse beroep te kan beoefen.
Gunning het in die verlede by onder meer Die Vaderland, Beeld, Finansies & Tegniek (later Finweek), Rapport en Die Burger gewerk.
Vir 'n volledige lys van al die pryswenners volg die skakel: https://www.fcjonline.co.za/images/stories/docs/2021_AVBOB_FCJ_Excellence_Awards_Winners_Announced_Final.pdf
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'