GEORGE NUUS - 'n Groot aantal nuwe plakkershutte, wat in Touwsranten opgeskiet het gedurende die laaste twee maande van verlede jaar, is 'n bron van kommer vir ander inwoners hier en veroorsaak ook hoofbrekens vir die George-munisipaliteit se grondbesettingseenheid.
Die munisipaliteit se kommunikasieafdeling het gesê daar is volgehoue pogings om grond hier te beset, maar hulle kon nie bewerings bevestig dat die mense van elders met busse of taxi's aangery word nie.
Tydens 'n vroeëoggend besoek aan die gebied Dinsdag, was dit tjoepstil en kon net twee jong inwoners gevind word wat aan die koerant gesê het die mense wat daar woon, werk onder meer op plase in die omgewing. Die meeste van die nuwe intrekkers is glo van die Oos-Kaap.
George-munisipaliteit het gesê die probleem word ondersoek. "Dit blyk dat die onwettige besettings hoofsaaklik gedurende die nag plaasvind wanneer amptenare nie aan diens is nie.
Enige persoon wat ná negeuur saans sonder die nodige permit rondbeweeg, oortree die Covid-19-regulasies en kan steng optrede van die polisie verwag indien hierdie oortredings onder hul aandag gebring sou word."
Enkele van die hutte waar die mense al goed ingeburger is.
'n Lank gevestigde Touwsranten-inwoner het gesê die hutte het gedurende November en Desember vinnig vermeerder.
"Ons hoor hulle timmer en kap in die nag en die volgende oggend sien jy daar staan nog 'n paar hutte. Die mense kom van ander plekke af. Dit bekommer ons, want wat gaan word van die ou inwoners wanneer dit by behuising en dienste kom - gaan ons voorkeur kry of agter in die ry staan?"
Volgens die munisipaliteit word behuising toegeken volgens streng kriteria wat insluit hoe lank 'n aansoeker op die waglys is en dat hy/sy nie reeds elders 'n huis gekry het nie.
Die aansoeker is verantwoordelik daarvoor om sy/haar kontakinligting in persoon te gaan opdateer by die behuisingskantoor elke keer as dit verander. Voorkeur word gegee aan bejaardes, gestremdes en gesinne met kinders.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'