GEORGE NUUS - Dr. Steve van der Walt, leraar van die NG Moedergemeente, het met 'n blink plan vorendag gekom om te help om in die voedselbehoeftes van die gemeenskap te voorsien.
Hy en lede van sy gemeente het die bal aan die rol gesit om groentetuine op die kerkterrein aan te plant en sodoende groente te kweek.
Van der Walt het by navraag gesê alles het eindelik baie vinnig gebeur. 'n Paar maande gelede het hy 'n advertensie in hul kerk se nuusblad gesien. Die mooi prentjie van die groente het onmiddellik sy oog gevang. Hy het dit gelees.
Die advertensie is deur die Hoop- en Versoeningstrust geplaas. Hulle verkoop saadboksies teen baie billike pryse.
Hy het van die saad bestel en binne twee dae is dit by sy woonplek afgelewer.
"Ek kon nie wag om te begin plant nie."
Sy vrou het hom toe daarop gewys dat hulle nie eindelik baie spasie by hul woonplek het om groente te plant nie. Sy antwoord was dat daar 'n manier moet wees om te kan groente plant.
Saam het hulle op die internet gaan snuffel en afgekom op inligting oor 'n hidroponiese stelsel. Dis 'n stelsel wat met pype werk. Met behulp van 'n pompie word water gesirkuleer in die pype waarin die saad geplant is.
Op 'n Saterdagoggend het hy pype gaan koop en aan die werk gespring. Die stelsel is gevestig en dit werk baie goed. Intussen het hy dit ook uitgebrei na 'n aquaponiese stelsel. Hy het 'n krat met vissies bygesit. Die vissies se ontlasting gee die plante die nodige nitrate.
Van der Walt het tot die gevolgtrekking gekom as dit so maklik is om groente te plant, dan kan dit uitgebrei word.
Op die kerkterrein is baie spasie. Hy het met belanghebbendes in die gemeente gesels en hulle het opgewonde reageer.
Volgens hom is die projek in die stadium nog in sy kinderskoene en daar sal aanstaande jaar in alle erns met die plant van die groente begin word. In die stadium vind beplanning plaas.
Dit gaan help want die gemeente voorsien op die oomblik in die voedselbehoeftes van 29 gesinne. Die plan is om vir die gesinne ook vars groente te verskaf.
Hy glo die Here wou vir hom iets sê met die groeteplantery. So kan mense gehelp word en dit kan ook hoop gee.
In die gemeente is baie kundigheid en mense wat ook tyd het om daarmee te help.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'