GEORGE NUUS - 'n Gospelkonsert met talle plaaslike sangers en groepe op die verhoog word komende Vrydag, 27 Junie, ten bate van opkomende rugbytalent, Ronalddino Williams, gehou om geld in te samel vir sy reis na Thailand.
Williams (20), van Borcherds, het onlangs die geleentheid gekry om sy gemeenskap en land te verteenwoordig by 'n toernooi in Thailand.
Hy is gekies om aan die Next Gen Blitz-rugbytoernooi van 14 tot 18 Julie deel te neem, maar die koste van die reis is vir hom en sy gesin 'n groot struikelblok.
Volgens sy ma, Caroline, moet hulle R48 000 insamel om reisuitgawes, toernooiregistrasie en vliegkaartjies te dek.
Hy moet Suid-Afrika op 11 Julie verlaat.
Die gemeenskap van George word genooi om Vrydagaand se konsert te ondersteun.
Dit begin om 18:00 by die Lawaaikamp-gemeenskapsaal. Kaartjies kos R30 vir volwassenes en R15 vir kinders onder 12 en is by die hekke te koop.
'n Fondsinsamelingsgeleentheid is reeds op Sondag 22 Junie by die Parkdene Baptistekerk gehou waar verskeie groepe en sangers opgetree het.
Een van die organiseerders, Lorrieta Hasley, het almal bedank wat tot die sukses van die aand bygedra het en sy doen 'n beroep op die gemeenskap om in groot getalle op te daag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’