GEORGE NUUS EN VIDEO - Gideon Lottering van Proteapark was dié week onder die Top-20 van Maak my Famous op kykNET.
Die Georgiet, beter bekend as Giddy, het die skare op hul voete gehad.
Hy kom uit ’n baie musikale familie en is die derde oudste van vier broers en een suster. “My ouers, Alfred en Ida Lottering woon steeds in George.”
Gideon se belangstelling in musiek het in 2001 begin toe hy betrokke was by sy kerkkoor se CD opname. Na hy in 2003 aan Hoërskool George gematrikuleer het, wou hy visuele kunste gaan studeer. “Maar my finansiële omstandighede het my nie toegelaat nie en ek moes na skool gaan werk.”
In 2007 was hy deel van die Idos, musiekkompetisie, waar hy onder die top-77 was. In 2015 het hy die besluit geneem om sy werk te los en sy droom te volg en visuele kunste aan die Universiteit van Stellenbosch te gaan studeer.
“Saam met die universiteit se “kamerkoorprojek” het ek die geleentheid gekry om na Duitsland en Hong Kong te toer waar ons by ’n hele paar plekke opgetree het.”
Gideon spandeer die grendeltyd by sy ouerhuis. Hy sê sy droom was nog altyd om vir sy ouers hul droom huis te bou.
Kyk 'n video hieronder.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'