GEORGE NUUS - Die George-polisie is op soek na vyf verdagtes ná 'n besigheidsroof by 'n restaurant in Yorkstraat Maandagoggend, 24 Januarie omstreeks 07:30.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, sers. Chris Spies, sê die bestuurder was besig om die deur oop te sluit toe vyf mans waarvan een 'n vuurwapen gehad het, hom oorval het.
"Die slagoffer is deur die gewapende verdagte in die kantoor in forseer waar die verdagtes 'n onbekende bedrag kontant uit die kluis gevat het voor hulle van die toneel gevlug het," sê Spies.
Niemand is nog in hegtenis geneem nie.
Enigiemand met inligting rondom die voorval word gevra om die George-speurtak by 044 803 4715 of Stop Misdaad by 08600 10111, te skakel. Inligting sal vertroulik hanteer word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'