Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Twee gesinne van Rosemoor is dakloos gelaat en het al hulle besittings verloor in ‘n brand wat vanmiddag, Saterdag 7 April, omstreeks 13:30 uitgebreek het.
Hullle is die huurders van twee houthuisies wat langs mekaar agter die hoofhuis in ‘n erf in Truterstraat gestaan het.
Die huisies is tot op die grond afgebrand.
Die brandweer was op die toneel, maar nie betyds om die plekke te red nie.
Daphne Petersen en haar man, Samuel Muller, albei bejaardes, het in die een huisie gewoon. Petersen was nie tuis toe die brand ontstaan het nie, maar haar man, Samuel Muller was binne en is net betyds deur ‘n jongman van die buurt uit die brandende plek gesleep. Hul hond, wat in die erf vasgemaak was, is erg in die brand beseer. Die DBV het hom kom oplaai.
‘n Geskokte en emosionele Sara Cameron, wat saam met haar vriend, drie kinders en twee kleinkinders in die ander huisie gewoon het, vertel dat sy by ‘n vriendin gekuier het toe die brand uitgebreek het. “Ons het alles verloor. My kinders se skoolklere en skoolgoed, als is uitgebrand.”
Peterson en Muller is met ‘n ambulans hospitaal toe geneem. Hulle was erg geskok en Muller het by tye sy bewussyn verloor.
Jong inwoners van die omgewing het ingespring om die toneel te begin opruim en op soek na moontlike items wat gered kon word.
Raymond Nonzinyana van die George-munisipaliteit se behuisingsafdeling het ook opgedaag en gesê dat die munisipaliteit moontlik tydelike blyplek in ‘n gemeenskapsaal aan die gesinne sal verskaf. Komberse, matrasse, kos en ander benodigdhede sal ook voorsien word. Die munisipaliteit sal ook twee strukture vir hulle oprig.
Kyk 'n video hieronder.
Die gesinne het al hul besittings in die brand verloor.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'