GEORGE NUUS - Kersfees-vreugde in George het vandag (25Desember) ‘n hupstoot gekry toe verskeie babas by die George provinsiale hopsitaal hul eerste lewenslig aanskou het.
Die eerste Kersbaba by die George provinsiale hospitaal, ‘n dogtertjie is om 00:45 gebore. Teen 10:00 was reeds 6 babas gebore - 5 seuntjies en 1 dogtertjie.
Een van die babas is met ‘n keisersnee in die wêreld gebring.Die kleinste babatjie weeg 2,240 kg en die grootste 3,320 kg.
By die George MediClinic het geen pienkvoete nog teen 11:00 hul opwagting gemaak nie. Verpleegpersoneel het geduldig gewag en bygevoeg: “Enigiets kan gebeur.”
In die gange en sale van die kraam-afdeling van die George provisiale hospitaal was daar groot opgewondenheid. ‘n Kersboom en versierings het mense herinner dat dit Kersfees is.
Mike Vonk, hoof uitvoerende beampte van die hospitaal, het aan die George Herald gesê daar is elke jaar opgewondenheid oor die Kersbababas. “Dis elke jaar ‘n seëning.”
Suster Alida Portland, wat in beheer is van die B4 kraamsaal, het gesê die personeel is saam met die ouers opgewonde.
Dit getal babas wat op Kersdag gebore word, wissel elke jaar en gewoonlik word tussen 5 en 6 babas gebore.
Die eerste aanduidings is dat meer seuntjies as dogtertjies vanjaar by die hospitaal op Kersdag gebore is.
Sy het gespot dat kinders wat op Kersdag gebore word, elke jaar saam met hul Kersfeesgeskenke ook verjaarsdaggeskenke ontvang.
Lukhona Qave (21) van Thembalethu het haar eerste kind besorg vertroetel. Sy was baie opgewonde. Haar dogtertjie, Qvayo was die eerste Kersbaba in George vanjaar. “Ek het baie uitgesien na die dag. Dit is spesiaal dat my kind op Kersfees gebore is.”
Vir Evardene Abrahams (22) was dit ook ‘n eerste. Haar seuntjie is om 1:45 gebore. Sy naam is Hosea. “Dit is die pa se besluit om hom Hosea te noem.”
Sy het dit as ‘n uitsonderlike belewenis beskryf. “Ek het nie beplan om op Kersdag geboorte te skenk nie. Dit is ‘n Kersfees-miracle.”
Op die vraag op sy ‘n spesiale geskenk vir klein Hosea gekoop het, het sy geglimlag en vertel:”Die familie het nie geweet wat die geslag van die kind was nie. Ons het gedog dit is ‘n dogterjie. Ons het net dogtertjie klere gekoop.”
Sy het nog nie planne vir Hosea se toekoms nie. “Solank hy net gesond en nornaal is.”
Deidre Hector (35) het gesê dat haar seuntjie nog nie ‘n naam het nie. “Ek was nogal verras toe hy op Kersdag gebore is. Ek is baie opgewonde.”
Dit is haar twee kind. Die oudste is ook ‘n seuntjie en hy het nou ‘n boetie.
Kyk 'n video hieronder.
Lukhona Qave (21) by haar baba-dogtertjie, Qvayo. Sy was die eerste Kersbaba wat vanjaar in die George provinsiale hospitaal gebore is. Foto: Eugene Gunning
Groot opgewondenheid het Dinsdag by die George provinsiale hospitaal geheers toe 'n nuwe aankomeling op Kersdag verwelkom is. Hier is van links, Dr. Eddie Niewenhuizen, Daphedeen Allah, Z. Damons, suster Alida Portland, Evardene Abrahams en haar baba, Hosea, C. Stripp, Alida Mabalo, Mike Vonk en A. Alexander. Foto: Eugene Gunning
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'