Update
GEORGE NUUS - 'n Man wat met sy lewe, eerder as met woorde gepraat het. Só het ds. Hannes Pretorius, leraar van die NG Kerk Bergsig, wyle Harold Basson (63) tydens 'n gedenkdiens verlede Vrydag, 8 November, beskryf.
Basson is onlangs na 'n kort siekbed oorlede. Hy het voorheen diep spore by die George-munisipaliteit getrap en was ten tyde van sy afsterwe in diens van die Hessequa-munisipaliteit. Benewens sy groot werk as siviele ingenieur, was hy ook baie bekend in sportkringe.
Talle familie, waaronder Basson se vrou, Lidia, sy ma, Esther, sy broers, skoonsusters, vriende en oudkollegas, het die diens in ’n stampvol kerk bygewoon.
Pretorius het in sy boodskap familie en vriende bemoedig. Hy het gesê daar is sekere dinge waarvoor mense nie 'n verklaring het nie.
Hy het Basson vir byna 30 jaar geken. "Hy het alles voluit gedoen. Hy het hard gewerk, hard geoefen, die natuur ten volle geniet, was lief vir Lidia en geheg aan sy familie. Hy was suksesvol in wat hy aangepak het - sy werk, huwelik, sport en vriendskappe. Harold was geliefd en het baie vriende gehad."
Volgens Pretorius het Basson nooit met woorde gemors nie en was altyd gewillig om te luister. Hy was 'n besonderse mens.
Basson se een broer, Kobus het die dankbetuigings gedoen en ook 'n paar staaltjies van hul kinderjare gedeel.
Een daarvan was toe hulle as klein seuntjies by hul oupa in die Oos-Kaap gaan kuier en in die sand met karretjies gespeel het. Toe al, het hy gesien sy broer het 'n aanvoeling vir die ingenieursdinge. Daar in die sand het hy "bergpasse" en "damme" gebou.
Die NG Kerk Bergsig was stampvol toe 'n diens vir wyle Harold Basson gehou is. Foto: Eugene Gunning
Maar hy het amper nie 'n ingenieur geword nie. Met die voltooiing van sy skoolloopbaan was hy gekeur om tandheelkunde te studeer. Kort voor die sluiting vir die finale inskrywing vir die kursus, wou hy by sy pa weet of hy nog van kursus kon verander. Uiteindelik het hy ingenieurswese gaan studeer.
Kobus het vertel hoe hulle as gesin in 1965 oor die radio geluister het na die Springbokke se rugbywedstryde in Nieu-Seeland. Na een van die wedstryde het hulle as broers die wedstryd buite op grasperk in die tuin weer "oorgespeel".
Kobus het sy broer as baie nederig, ontsettend lojaal, beginselvas en iemand met 'n subtiele humorsin beskryf.
As familie dink hulle hy het te vroeg gegaan. Hulle berus egter daarby en weet dis 'n besluit van die liewe Vader.
A touching memorial service was held for Harold Basson (63), at the Dutch Reformed Church Bergsig on 8 November. Basson previously was a stalwart in the engineering department of George Municipality. He passed away after a short illness on 24 October. He was employed at the Hessequa Municipality at the time of his passing.
Lees vorige artikels:
- George groet Harold Basson
- Basson te vroeg weg
- Passing of Harold Basson
- Basson se dood ruik Tuinroete-gemeenskap
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'