TUINROETE NUUS - Stil broers, daar gaan ’n man verby...
Dié geykte woorde mag wel 'n cliché wees, maar in Harold Basson se geval is dit absoluut waar. Die onverwagse dood van Basson, direkteur van tegniese dienste by Hessequa-munisipaliteit het die ganse Tuinroete geruk en laat ’n onbeskryflike leemte.
Huldeblyke stroom in vir dié voormalige direkteur van siviele dienste in George wat deur sy talle kennisse, vriende en kollegas as eerbaar, opreg, hardwerkend en hoogs bekwaam beskou is.
Basson (63) is Donderdagnag na ’n kort siekbed in Mediclinic George oorlede. "Hy is Dinsdagaand in die hospitaal opgeneem weens ’n vaskulêre probleem in sy linkerbeen," het Lidia, sy vrou van 37 jaar aan Suid-Kaap Forum, susterskoerant van die George Herald, gesê. "Hy het drie operasies ondergaan om sy been te red." Volgens haar het hy ’n jaar gelede dieselfde probleem ondervind.
Ten spyte daarvan was Basson fiks en gesond. Hy het op 19 Oktober aan die 5 km Fynbos-hol ten bate van die Tuin-op-die-Brak op Stilbaai deelgeneem en was die eerste man om klaar te maak.
"Hy was baie sportief en het kompeterend gehardloop, fietsgery en geroei," het Lidia gesê. "Hy was baie lief vir die natuur en het graag gestap, gekamp en met sy Landy’s getoer."
In September vanjaar het hy vir sy broer Albertus, wat in Windhoek woon en wat met leukemie gediagnoseer is, beenmurg geskenk. "Hy was ’n 100% passing en was so opgewonde daaroor. Dit was ’n groot sukses en Albertus is 18 dae later uit die hospitaal ontslaan."
Die egpaar het einde 2017 van George na Stilbaai verhuis. "Ons het 35 goeie jare in George gehad en ’n fantastiese vriendekring opgebou. Herold was 31 jaar by George-munisipaliteit. Die laaste twee jaar op Stilbaai was vir ons albei verskriklik lekker. Hy het lekker gewerk, is met respek behandel en gewaardeer. Hy was mal oor sy jong spannetjie en het so lekker saam met almal gewerk. Hy het nog ’n jaar en ’n half gehad om te gaan voor hy sou aftree."
Basson het 'n groot rol in die vestiging van Go George gespeel en was 'n belangrike skakel in die uitmergelende onderhandelingsproses tussen die owerhede en die taxi-bedryf.
In ’n mediaverklaring het Hessequa-munisipaliteit gesê dat dit met leedwese en skok van Basson se afsterwe verneem is. "Die bydrae wat hy in die munisipaliteit en gemeenskap gelewer het, word baie hoog geag. Sy kennis en ervaring in die ingenieursbedryf is onlangs beloon toe hy deur SAICE as Fellow of The South African Institution of Civil Engineers erken is.
"Die uitvoerende burgemeester, speaker en raad, munisipale bestuurder, direkteure en kollegas betuig medelye en innige simpatie aan sy eggenoot Lidia en familie. Sy nagedagtenis word ook in die besonder deur die tegniese dienste personeel geëer," lui die verklaring.
'n Bymekaarkoms om sy lewe te vier word Vrydag 8 November uit die NG Bergsig-gemeente, h/v 4de en Meyerstrate om 15:00 in George gehou, asook Saterdag 9 November om 10:00 vanuit die NG Kerk, Kerkstraat 14 in Stilbaai-Wes.
Hy het geen kinders gehad nie, en behalwe vir Lidia and Albertus, word Basson deur sy ma, Esther en broers, Kobus en Johan, almal van Stellenbosch, oorleef.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete nuus'