Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Gemoedere het Woensdagoggend hoog geloop toe ontevrede inwoners van Borcherds opgeruk het na die kantore van die departement siviele ingenieursdienste van die George-munisipaliteit.
Hulle is ongelukkig oor die wyse waarop werk beskikbaar gestel is en het vinger gewys na 'n wyksraadslid. Hulle het aangevoer dat die betrokke raadslid die uitdeel van werk 'n politieke speelbal gemaak het en dit net vir sekere mense gee.
Die sowat 100 ontevredenes het eers by die Conville-gemeenskapsaal bymekaargekom vanwaar hulle na die middedorp beweeg het. Die polisie en wetstoepassingsbeamptes van die munisipaliteit het 'n wakende oog gehou.
Kort na 11:00 het hulle by die munisipale kantore aangekom. 'n Afvaardiging van die gemeenskap en Reggie Wesso, direkteur siviele ingenieursdienste het toe agter geslote deure vir byna 'n uur vergader.
Aanwesiges het onder meer gesing: “Ons kan nie meer worry nie. Ons soek werk.”
Na afloop van die samesprekinge het John Yoko, een van die organiseerders van die optog en Wesso aanwesiges toegespreek.
Yoko het gesê die onderhandelinge was hard en Wesso verstaan hoe die ongelukkiges voel. Volgens hom het Wesso onderneem om die saak verder te neem.
Kyk 'n video hieronder.
Van die ontevredenes voor die kantore van die departement siviele ingenieursdienste van die George-munisipaliteit. Foto's: Eugene Gunning
Wesso het gesê hy sal later vandag terugvoer aan die gemeenskapsleiers gee nadat hy gesprekke gevoer het met betrokkenes oor die pad vorentoe. Hy kan hom in die stadium nie tot iets verbind nie.
Daar is wel ooreengekom dat die bestaande werkers tot Vrydag sal tyd kry om klaar te maak.
Yoko het na afloop van die optog aan die George Herald gesê die aangeleentheid sal waarskynlik teen Maandag opgelos wees.
*Die betrokke raadslid het nie haar selfoon beantwoord nie.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'