Die huis word reeds die afgelope twee maande onwettig gebruik as ‘n winkel deur twee Etiopiese broers wat die laaste twee jaar as vlugtelinge met ‘n assielsoekerspermit in Suid-Afrika woon. Volgens hulle permitvoorwaardes mag hulle handel dryf.
Hndebe Boyamo, die winkeleienaar, huur die hophuis van ‘n ene Elizabeth Lombard, wat nêrens te vinde is nie. Lombard se wettige man, Hendrik Balie, van wie sy 25 jaar gelede vervreem is, het tot middel verlede jaar in die huis gebly. Balie is verlede jaar in Junie oorlede waarna sy lewensmaat vir die afgelope jare, Annie Boesak, en haar twee seuns, deur Lombard gevra is om die huis te verlaat. Boesak het Balie versorg tot sy dood. So vertel ‘n buurvrou, Ellie Moos, wat oorkant die winkel bly.
Moos verduidelik dat die winkel snags tot so laat as 22:00 oop bly en ongewenste elemente na die buurt lok wat dag en nag voor die winkel rondhang. Sy is verder baie jammer vir Boesak wat na bewering sonder meer uit die huis geskop is.
Volgens onderburgemeester Lionel Esau, wat die DA-wyksraadslid vir die gebied is, is dit onwettig om ‘n hophuis te gebruik vir handeldryf. Esau het op versoek van ‘n inwoner, Leon Rothman, die winkel besoek. Stappe om die winkeleienaars te noop om die perseel te ontruim, sal eersdaags in werking tree.
"Normaalweg mag die eienaar van ‘n huis aansoek doen by die munisipaliteit om ‘n huiswinkel te hê, maar dan moet hy dit self bedryf," sê Esau. Hy noem dat meer as 14 000 mense op ‘n waglys vir hophuise is. Volgens Esau is die huis ter sprake steeds op Balie se naam geregistreer.
Rothman se grootste ongelukkigheid oor die winkel is die feit dat dit belastingbetalers se geld is wat vir hophuise gebruik word. Hy is ontevrede daaroor dat ‘n gesin verhoed word om ‘n dak oor hul koppe te hê, "want dit is immers waarvoor die huise gebou is", sê hy.
Gemengde gevoelens
Daar heers egter gemengde gevoelens oor die winkel, want waar een buurman ‘n direkte verband trek tussen twee inbrake by sy motor en die winkel, voel ‘n ander dat die winkel baie gerieflik geleë is om vinnig huisraad aan te koop.
Daar is sprake dat van die inwoners ‘n petisie gaan opstel om die winkel daar te hou. Daar is sowat drie ander huiswinkels in dié buurt.
Boyamo, wat reeds twee skeepshouers moes sluit weens onwettige handeldryf, reken dat die mense wat oor sy winkel kla, bloot jaloers is. Hy is lief vir George en probeer sy bes om ‘n verskil in sy gemeenskap te maak.
Tydens die George Herald se besoek aan die winkel het ‘n groepie inwoners se gemoedere oorgekook en is verwyte heen en weer geslinger. Die skare het oproerig geraak. Daar is duidelik ‘n verdeeldheid onder die inwoners oor die winkel.
.jpg)
Raadslid Lionel Esau (links) gesels met ‘n klaer, Leon Rothman (regs), en die winkeleienaar Hndebe Boyamo (middel).
.jpg)
Die vriendelike Assifa Lufajiri beman die winkel bedags. Soos die winkeleienaar, is Lufajiri ‘n Etiopiër.
ARTIKEL EN FOTO'S: MICHELLE PIENAAR