GEORGE NUUS - Lloyd Mungadze van Haygrove Eden, Geelhoutboom is aangewys as die wenner in die kategorie, Junior Bestuur in die Wes-Kaapse Agri-werker van die Jaar-kompetisie. Hy het sy toekenning ontvang tydens die onlangse Wes-Kaapse Prestige Agri-toekenningsgeleentheid in die Paarl op Saterdag 2 November.
Dirk Rabie, die plaas se besigheidsbestuurder, sê die belangrikste deel van Haygrove se sukses is sy besonderse arbeidsmag.
"Met die plaas wat van die weer, wêreldmark en uitvoermark afhanklik is, kan dit wisselvallig en soms onvoorspelbaar wees. Haygrove se stabiele arbeidsmag en die bekwaamheid van ons gespesialiseerde arbeidsmag is egter 'n gegewe."
Nog drie van Haygrove se verteenwoordigers was kategoriewenners by die toekennings. Clyde Martins (kategorie: besproeiingspesialis), Veronica Terblanche (sosiale ontwikkeling) en Siyambuka Gantsu (algemene werker).
George-landbouskou se president, Corné Botha (links) en Christo Fourie (visepresident en streekkoördindeerder van die Agriwerkerskompetisie, regs) met die toekennings vir die Beste Presterende Streek in die Agriwerkerskompetisie. By hulle is Danie Niemand (direkteur: plaaswerkerontwikkeling) en Joyene Isaacs (Wes-Kaapse departement landbou).
"Dit bewys dat Haygrove se belegging in die ontwikkeling van hul arbeidsmag inderdaad vrugte afwerp. Hierdie vier individue het besondere groei en ontwikkeling getoon gedurende hul tyd by Haygrove. Die boerdery het in 2010 begin om weer- en droogterisiko te versprei en om aan 'n groeiende vraag na Suid-Afrikaanse bessies te voorsien. Benewens die frambose en bloubessies, fokus ons ook die hele jaar daarop om aarbeie te kweek met meer as 1 000 personeellede."
Beste presterende streek
Corné Botha, president van die George-landbouskou, en Christo Fourie, die skou se visepresident en die Tuinroete-koördineerder van die Agri-werkerskompetisie, het ook die Danie Niemand-toekenning vir die beste presterende streek ontvang. Hulle het presteer ten spyte van moeilike omstandighede en uitdagings.
Hulle het 14 plase besoek en met 75 werkers onderhoude gevoer van wie die wenners deur is na die Wes-Kaapse Agri-toekennings.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'