Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Burgemeester van Sentraal-Karoo, Gayton McKenzie, het besoekers en gemeentelede verlede Sondag, 21 Augustus, by Eagle's Nest Ministries in Pacaltsdorp met sy getuienis geïnspireer.
McKenzie is ook die president van die Patriotic Alliance (PA).
Sedric Smart, die PA se verteenwoordiger in die George-raad, het gesê McKenzie het op uitnodiging sy getuienis gelewer. McKenzie het Saterdag met sy partylede vergader waar hy hulle met 'n motiveringspraatjie bemoedig het.
Hy het ook 'n draai by Rosemoor-sportterrein gemaak waar die twee plaaslike rugbyklubs, Progress van Rosemoor en Evergreens van Pacaltsdorp, kragte gemeet het.
Volgens Smart het heelwat nuwe lede by hul party aangesluit. "McKenzie het tyd gemaak om 'n rugbywedstryd by Rosemoor-sportterrein in die gietende reën by te woon," het Smart gesê.
"Dit was 'n fantastiese naweek waar Gayton sy getuienis gelewer het. Dit is geen geheim dat hy in sy lewe tyd in die tronk deurgebring het nie. Hy praat gereeld daaroor en het ook in sy getuienis daarna verwys. Hy het vertel hoe sy lewe verander het nadat hy die Here gevind het.
"Gayton het heelwat gesels met eks-gevangenisse en vertel hoe hy self deur die lewe gekom en tot daar waar hy nou is. Dit was 'n wonderlike en geseënde naweek."
Rudy Ruiters van Pacaltsdorp, takhoof van die PA in George, was gaande oor die diens en McKenzie se getuienis.
"Die ondervinding was ongelooflik! Die opkoms van die gemeenskap was uitstekend. Dit was 'n awesome dag om saam met hom te wees, en die leierskap van George," het hy gesê.
McKenzie het die PA destyds op die been gebring saam met die sakeman, Kenny Kunene.
Sophia Tool en Gayton McKenzie Sondag by Eagle's Nest Ministries in Pacaltsdorp.
Anthea Grobbelaar saam met Gayton McKenzie.
Brunhilda Campher het Gayton McKenzie se besoek geniet.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'