GEORGE NUUS - Die Suid-Kaap Fynproewersgilde en hulle gaste hou piekniek op Donderdag 11 Maart om 09:00 vir 09:30 by Marshmallow Garden Café in die middel van die George Botaniese Tuine.
Simpiwe Dambuza, mede-eienaar en ook die hoofsjef, gaan die kosdemonstrasies doen. Hy word ondersteun deur 'n span wat nie alleen die kosse gaan bedien nie, maar ook verseker dat Covid-maatreëls ten alle tye nagekom word.
Die plan is tans om dit in die opelug te hou, met ‘n onderdak alternatief as die weer onplesierig is.
Die volgende geregte sal by die geleentheid gedemonstreer word: diepgebraaide mac- en kaasvingerhappies, oosterse geroosterde mossels, lemoen en gemmer freezo,
Marrokkaanse hoenderschwarma-toevoubroodjie (wrap), 5-speserye-hoendersliders, en perske-cobbler-koekies met roomys vir die soettand.
Hierdie geregte sal gepaar word met bypassende wyne om die beste uit die geregte te kry.
Dit gaan ‘n uithalerdemonstrasie wees met baie om te geniet en te leer van ‘n jong en innoverende sjef. Gaste is hartlik welkom. Indien jy belangstel om dit by te woon, kontak Santie van Vuuren (082 461 0777) om ‘n plek te bespreek teen R170 'n kaartjie.
Trek ‘n vrolike pienk of groen item aan, sit ‘n masker op, bring ‘n sonhoed saam en wees gereed vir ‘n onvergeetlike oggend. Beperkte sitplekke is beskikbaar.
Marshmallow Garden Café is geleë te Caledonstraat 49, Camphersdrift en is ‘n rolstoelvriendelike omgewing.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'