Juniemaand se demonstrasie het plaasgevind op 'n nat en reenerige oggend, maar ten spyte hiervan was die gilde se lede teenwoordig in getalle om te hoor wat Jonel Ackermann, die brein agter Farm Fresh Direct, te sê gehad het.
Farm Fresh Direct kan ten beste beskryf word as 'n aanlyn-plaasmark waar nie minder nie as 600 organiese en natuurlike produkte beskikbaar is. Hierdie produkte word plaaslik geproduseer op verskeie plase in die Suid-Kaap en bestellings word weekliks op Dinsdae en Donderdae afgelewer in Mosselbaai, George, Hoekwil, Heroldsbaai en Wildernis.
"Eintlik het ek maar net die 'kommingeit' uit smous probeer haal!" het Ackerman geskerts.
Volgens Ackermann, bewys tendense dat e-handel met 40-50% toegeneem het, juis as gevolg daarvan dat die gebruik slimfone verhoogde Internet-verkeer tot gevolg het. Statistiek het verder bewys dat dat 65% van Google-soektogte oor naweke plaasvind danksy die gebruik van slimfone.
Ackermann het verder verduidelik dat hierdie aanlyn-plaasmark ideaal is vir die verspreiding van vars produkte, aangesien dit binne ure vanaf die plaas aan die huis gelewer kan word. Daar is ook geen vermorsing nie, aangesien slegs dit wat bestel word, afgelewer word. Oorhoofse kostes is ook baie minder en daarom kan produkte teen groothandelpryse direk aan die publiek gelewer word. Ackermann se opgewondenheid oor verdere verwikkelinge by Farm Fresh Direct was merkbaar.
"Ek glo as jou droom jou nie bangmaak nie, dan is hy nie groot genoeg nie," het sy gesê.
'n Prag uitstalling van sommige van die gelyste produkte het almal behoorlik geïnspireer tot 'n gesonder leefstyl en is na afloop van die byeenkoms te koop aangebied. Sommige lede was baie in hulle noppies om 'n paar van die produkte te wen tydens die prystrekking.
Die Suid-Kaap Fynproewersgilde vergader weer op Donderdag, 2 Augustus om 09:00 in die Mosselbaai stadsaal met die tema, 'Kisses and Quiches'.
Enige belangstellendes kan Judy Meyer kontak by 083 600 6622.

Die keurige uitstalling bestaande uit sommige van die produkte gelys by Farm Fresh Direct, het die Fynproewers gaande gehad.
Foto's: Cornelle Carstens