GEORGE NUUS - Met nasionale kinderbeskermingsweek wat Sondag 27 Mei begin het, besoek die polisie verskeie plaaslike skole in en om George hierdie week. Die doel van die besoeke is om kinders in te lig oor die gevare van seksuele misdrywe en ook om hulle touwys te maak oor hoe om dié misdrywe aan te meld.
Volgens kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, gaan verskeie polisielede in samewerking met die gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe-eenheid (GKS) hierdie week op 'n veldtog van bemagtiging, opvoeding en bewusmaking fokus.
"In die lig van die onlangse aantal voorvalle waar kinders en jeugdiges slagoffers van misdade soos verwaarlosing en seksuele misdrywe waaronder seksuele aanranding, verkragting en kinder-pornografie was, kon kinderbeskermings-week nie op 'n beter tyd gekom het nie," sê hy.
"Die kernfunksie van ons as polisielede is om ons gemeenskappe veilig te hou. Dit sluit kinders in wat moontlik verwaarloos of onbewaak gelos word. Dié kinders is meer vatbaar vir groepsdruk. Ouers moet ook meer waaksaam wees oor speletjies wat hul kinders speel. 'n Veilige huis kan verhoed dat kinders aan slegte invloede en kriminele elemente blootgestel word. Waaksame ouers kan 'n kind se lewe red."
Thuthuzela se Angelique Vezasie het met die gr. 7-leerders van Pacaltsdorp Primêr oor tienerswangerskappe gesels. Sy het verduidelik hoe en waar om verkragtings aan te meld, die hofprosedures wat volg en die gevare van vroeë swangerskappe. Vanessa Titus (Sanca) se praatjie het oor die gevare van dwelms en waar om hulp te kry, gegaan terwyl sersant Shadelle Fisher leerders gewaarsku het om liefs weg te bly van dwelms af.
Die Pacaltsdorp-polisie, die Suid-Afrikaanse nasionale raad teen alkohol- en dwelmverslawing (Sanca) en Thuthuzela Care-sentrum het reeds Dinsdagoggend 'n besoek aan Pacaltsdorp Primêr afgelê.
Hulle het met die leerders oor verkragting, dwelms en vroeë swangerskappe gesels.
Landwyd oor die laaste drie jaar, is kinders by minstens 41% van alle gerapporteerde verkragtingsake betrokke. In dieselfde tydperk is meer as 2 600 kinders vermoor. Dit is 5% van alle moorde wat landwyd deur die polisie ondersoek word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'