GEORGE NUUS - Die familie van twee konstruksiewerkers is die Vader dankbaar dat hul pa en seun Vrydag lewend huis toe gekom het.
Die pa en seun, wat verbonde is aan 'n bouprojek by Groenkloof-aftreeoord, het Vrydagmiddag net-net met hul lewens daarvan afgekom toe vier rowers hulle voorgekeer en probeer beroof het.
Hulle het aan George Herald vertel dat dit 'n beplande aanval moes wees, want die tyd was te goed uitgewerk.
Die twee mans was van die bank af op pad terug na die bouperseel om lone uit te betaal. Toe hulle by die afdraai na Groenkloof kom, het 'n wit VW City Golf, wat langs die pad gestaan het, voor hulle ingetrek.
"'n Man met 'n vuurwapen het uitgespring en na die passasierskant se deur gegaan. Hy het met die agterkant van die pistool teen die bo-kant van die deur gekap, ons dink hy wou die venster stukkend slaan. Toe ruk hy die deur oop. Dis waar my pa gesit het.
"Hy het my pa se arm, wat aan die handvatsel teen die dak vasgehou het, probeer losruk. Toe hy dit nie regkry nie het hy die pistool van sy kop weggehaal en oor sy arm gehou."
Die pa vertel hy wou oorgee en toelaat dat die rowers doen wat hulle wou, want toe was die pistool reeds teen sy kop. Toe die pistool weg van sy pa se kop gehaal is, het die seun gesien hier sal hy moet reageer.
"Die pistool se punt het na die dak van die voertuig gewys, en ek het onmiddellik gereageer en die voertuig in rat gesit en probeer wegry. Die rower het vasgehou en is 'n entjie saamgesleep tot hy geval het. Dis toe hy op ons geskiet het."
Die konstruksiewerkers sê hulle is steeds getraumatiseerd.
Hy vertel terwyl hulle van die rowers weggery het, het hy 'n pyn in sy bors gekry en kon nie onmiddellik asemhaal nie. Al wat hy geweet het, is dat hy nie kon toelaat dat hulle sy pa so van die familie af wegvat nie.
Die familie verwerk nog alles wat gebeur het, maar probeer intussen om veiligheidsmaatreëls in plek te stel omdat hulle steeds moet werk en die lewe gaan aan.
Die polisie was Vrydagmiddag op die perseel waar hulle die area gefynkam het vir leidrade.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig daar was vier mans betrokke, en dat 'n skoot afgevuur is. Volgens Pojie is 'n saak van poging tot moord en poging tot roof geopen.
"Die ondersoek is ver gevorderd, en ons kan enige oomblik 'n deurbraak maak," sê Pojie. Hy sê die polisie kan egter nie te veel inligting aan die media bekend maak nie, omdat dit die ondersoek kan belemmer.
Die gat wat deur die trokkie se spieël geskiet is toe die insittende weggery het.
Lees 'n vorige artikel: Rowers skiet op kontrakteur
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'