Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Jong fietsryer se lewe het byna onherroeplik verander toe sy pa, wat ook sy afrigter is, tydens 'n oefensessie op 2 September deur 'n voertuig getref is.
Cuan Wildeman (13) het op daardie stadium saam met die res van die fietsrygroep gery, terwyl sy pa, Phillip Wildeman, 'n kortpad geneem het.
Phillip was besig om oor 'n verkeerslig by Stanmar Motors in Beachweg, vanaf Pacaltsdorp in die rigting van die dorp te ry, toe 'n motoris glo van die sykant (naby die vulstasie) 'n rooi verkeerslig geïgnoreer en op hom afgepeil het.
Die bestuurder het blykbaar aan Phillip erken dat hy besig was op sy foon. "As dit nie vir 'n bestuurskursus was waar ek geleer het om sulke situasies te hanteer nie, was ek morsdood," het Phillip gesê. "Toe ek sien wat gaan gebeur het ek my fiets gedraai in die rigting waarin die motor beweeg. Hy het my teen my linkerskouer getref."
Fotogalery: Cuan Wildeman is lief vir fietsry
Phillip het 'n sleutelbeen gebreek, maar hy leef, en hy sal oor 'n paar weke weer saam met sy seun kan fietsry.
Dertienjarige Cuan Wildeman droom om eendag aan die Tour de France deel te neem.
Van tienjarige ouderdom het Cuan reeds belangstelling in fietsry en tweekamp getoon, maar dit was met 'n oefensessie na Sedgefield (84 km), verlede jaar, wat sy pa gesien het die jongeling het sommer hope talent. "Ek het besef ek gaan hom moet help om meer aandag aan fietsry te gee. Hy is volgende jaar 'n Kwagga by Hoërskool Outeniqua en sien baie daarna uit om hard te werk vir sy sport," het Phillip gesê.
Pa en seun staan dikwels douvoordag op om te oefen, en naweke spandeer hulle heelwat tyd aan fietsry en fiksheid.
Kyk 'n video hieronder:
Cuan gaan Eden-tweekamp (Duathlon) as hul o.15-kampioen op 30 Oktober in Port Elizabeth verteenwoordig. Hy is ook genooi om in November aan die o.15- baanfietsrykampioenskappe in Paarl deel te neem, en het die Wes-Kaapse fietsryspan (o.15) gehaal waar hy op 5 Oktober aan die SA kampioenskappe in Mpumalanga gaan deelneem.
Ofskoon Cuan intussen saam met sy oom, Jonathan Wildeman, moet oefen, sien hy daarna uit om weer saam met sy pa fiets te ry.
Die Wildemans het aansoek gedoen vir borgskap by George-munisipaliteit en wag nog vir terugvoering. Indien 'n privaat onderneming belangstel om te help met brandstof en reiskoste, kontak Phillip Wildeman by 079 638 2882.
April 2021, Laingsburg: Wes-Kaapse span gehaal vir Fietsry.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'