GEORGE NUUSFLITS - 'n Vermeende skelm wat ‘n kinderfiets gesteel en probeer verkoop het, het sy rieme styfgeloop ná ‘n flink spanpoging tussen ‘n fietswinkeleienaar, sy tegnikus en die polisie.
Die verdagte, Brandon Pietersen (19) het verlede Dinsdag 18 Julie blykbaar die gesteelde fiets aan die plaaslike fietswinkel, Suid-Kaap Fietse, probeer verkwansel toe die tegnikus, Andries Esterhuyse, die fiets herken en snuf in die neus gekry het.
Hy het die eienaar, Barry Scholtz, daarvan in kennis gestel.
"Ons het toevallig die fiets 'n paar maande gelede gediens en ek het dadelik onraad vermoed toe hulle dit aan my vir R100 wou verkoop," vertel Scholtz.
Scholtz het vir Pietersen gesê dat hy nie genoeg kontant by hom het nie en dat hy later moes terugkom met die fiets. Intussen het Scholtz die eienaar van die fiets, Ami Muller, gekontak om te bevestig of sy wel haar kind se fiets vermis. Hy het toe die polisie geskakel.
"Hy [Pietersen] het later teruggekeer om die fiets aan my te verkoop, waar hy summier in hegtenis geneem is. Ek is net bly ons kon help," sê Scholtz.
Esterhuyse het ook foto's van die verdagte met die fiets geneem en dit aan Muller gestuur, wat dit weer op haar beurt vir die polisie gegee het.
In 'n brief aan die George Herald vertel Muller dat sy dadelik na Scholtz se oproep opgemerk het haar kind se fiets is van hulle stoep af gesteel en het nie 'n oomblik getalm om dit by die polisie aan te meld nie.
Die 10-jarige Otto Muller (middel) het tot onlangs met sy sussie se pienk fiets rondgery. Hy het vandeesweek sy eie splinternuwe spogfiets gekry. Die pienk fiets is verlede week gesteel, maar gou weer teruggekry met die hulp van Barry Scholtz, die eienaar van Suid-Kaap Fietse en die polisie. Hier staan Otto met Scholtz (links) en tegnikus, Andries Esterhuyse.
"Die offisier het dadelik hul patrollievoertuig in die omgewing in kennis gestel en terwyl ek nog besig was om vorms by die polisiestasie in te vul, het mnr. Scholtz my geskakel en vertel dat die verdagtes op die perseel in hegtenis geneem is. Selfs al is ons geskok oor die diefstal, prys ons die briljante diens wat deur die polisie, mnr. Scholtz en sy personeel gebied is. Dit is werklik 'n goeie voorbeeld van hoe misdaad nie in ons dorp geduld moet word nie," sê sy.
Pietersen het op 20 Julie in die George-landdroshof verskyn. Die saak word verder ondersoek.
Hy is nie in aanhouding nie.
ARTIKEL & FOTO: KRISTY KOLBERG, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'