Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - So groot sukses was die Heritage Alive-simposium dat die organiseerders reeds begin het om te beplan vir 'n soortgelyke geleentheid aanstaande jaar.
Die geleentheid is verlede Donderdag en Vrydag by die George-museum gehou en meer as 100 belanghebbendes van oor die Suid-Kaap het dit bygewoon.
Verskeie sprekers het tydens geleentheid die belangrikheid van die bewaring van erfenis benadruk. Altesaam 21 sprekers het deelgeneem en dit het gewissel van onderwerpe van die bewaring en herlewing van die plantlewe in die Suid-Kaap tot die rotskuns in die Suid-Kaap.
Abrie de Swardt, voorsitter van die reëlingskomitee, het aan die George Herald gesê die geleentheid het die verwagtinge van die organiseerders oortref. "Daar was baie lewendige interaksie met die gehoor."
Prof. Quinton Johnson voorheen van NMMU aan die woord tydens die Heritage Alive-simposium by die George-museum.
Kyk 'n video hieronder:
Montagupas bied toerisme moontlikhede
As prof. Francois Hanekom en 'n groep belanghebbendes hul sin kry, sal die toerisme potensiaal van die Montagupas ten volle benut word. Dit is een van die geskiedkundigste bergpasse in Suid-Afrika. Dit strek van die tolhuis in die suide tot by Herold in die noorde aan die anderkant van die Outeniquaberge.
Prof. Francois Hanekom, die dryfkrag agter die nuwe planne met die Montagu-pas.
Hanekom, 'n voormalige direkteur-generaal van omgewingsake en toerisme, het by die Heritage Alive-simposium vertel van die voorgenome planne met die geskiedkundige pas.
Hy het later aan die George Herald gesê in Suid-Afrika word bergpasse as toerismebate nie ten volle benut nie. Hy en 'n groep belanghebbendes is betrokke by die nuutste planne en volgens hom het hulle in beginsel reeds die steun van plaaslike owerhede en van lede van die sakegemeenskap.
Abrie de Swardt (links) voorsitter van die reëlingskomitee van die Heritage Alive-simposium, Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis en Sydney Opperman, gemeenskapleier, by 'n model van die tolhuis.
'n Werksessie word einde Oktober gehou en die plan is om 'n "Verklaring van voorneme" by die geleentheid op te stel. Dit sal dan voorgelê word aan die plaaslike owerhede en die sakesektor.
Hy en die groep belanghebbendes wil die pas ontwikkel met die behoud van sy erfeniskarakter. Die doel is om die volle potensiaal te ontsluit.
Volgens hom is dit die oudtse onveranderde pas in die land. Die pas het 126 draaie en dit is nie geteer nie. Dit het sy outydse karakter behou.
Abrie de Swardt,(links) voorsitter van die reëlingskomitee van die Heritage Alive-simposium saam met van die professore wat as gassprekers opgetree het. Langs De Swardt, staan prof. Adrè Boshoff, voorheen verbonde aan die Universiteit van Pretoria, prof. Francois Hanekom, voorheen verbonde aan Unisa en prof. Quinton Johnson voorheen van NMU.
Hanekom het gesê die pas bestaan. "Jy kan dit nêrens vat nie. Dit vervul die rol van 'n katalisator."
Die pas dra reeds by tot die ontsluiting van toerisme geleenthede aan die anderkant van die berg.
Buitelanders wat al die pas gery het, het aan hom vertel hoe beïndruk hulle was.
Hy het benadruk dit moet deel wees van 'n geïntegreerde ontwikkelingsplan. Die voorgenome planne sluit verskeie aspekte in soos byvoorbeeld staproetes en voertuig- en fietsroetes. Die bestaande spoorlyn is ook 'n integrale deel van hul planne.
As die planne die groen lig kry, sal daar beheerde toegang wees.
Volgens hom is dit moontlik dat daar teenstand sal wees teen beheerde toegang. Beheerde toegang is belangrik want sover bekend is, is daar geen beskermde gebied wat goed operasioneel bestuur word, wat net oopgestel is nie.
Hou ook in gedagte dat by parke en beskermde gebiede soos Tafelberg en Robben-eiland, is daar ook beheerde toegang.
Prof. Francois Hanekom. voorheen verbonde aan Unisa in gesprek met prof. Adrè Boshoff, voorheen verbonde aan die Universiteit van Pretoria, by die Heritage Alve-simposium. Foto's: Eugene Gunning
Montagupas vanaf Cradockpiek afgeneem. Herold lê aan die regterkant, aan die linkerkant is die Outeniquaberge en in die agtergrond is die Swartberge.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'