Presies ‘n jaar en drie dae vóór hierdie tweede byeenkoms het George en die hele omgewing in massa die stadion volgepak om saam met die gewilde boer-prediker, Angus Buchan, vir reën te bid.
Die feit dat die vlieënier ter elfder ure laat weet het dat die weer te ongunstig was om Buchan Dinsdag hierheen te vlieg, het niks gedoen aan die dankbaarheid onder gelowiges wat glo dat God uitkoms gegee het en dat Hy die fokus van die biddag moes wees nie.
Buchan het destyds gesê dat George eers hul verhouding met die Opperwese moet regmaak voordat hulle seën in die vorm van reën kan verwag.
Vir Dinsdag se dankseggingsbyeenkoms het hy egter op die laaste oomblik ‘n opname laat maak wat na George gekoerier is en op die groot skerm gesê dat George geseën is omdat die inwoners gehoor gegee het.
"Besighede het hul deure gesluit sodat hul personeel die byeenkoms kon bywoon, boere het van plase af gery en werkers na die stadion vervoer en individue het in groot getalle na die gebedsbyeenkoms gestroom.
"Dit is waarom George met water geseën is," het hy gesê.
Ná die aankondiging dat Buchan nie na George sal kan reis nie, het ’n paar mense teleurgesteld omgedraai en uit die stadion gestap.
André Barnard, hooforganiseerder van die byeenkomste, het egter gesê dat dit nie oor oom Angus moet gaan nie, maar om die Hemelse Vader te loof vir die verligting wat hy vir die kwellende droogte gebied het.
Graham Power, wat verlede jaar ook teenwoordig was, kon ook nie vanjaar op die verhoog wees nie omdat hy in die VSA vir ‘n konferensie is. Hy het egter ‘n boodskap gestuur wat deur Barbara Cilliers, kleindogter van die legendariese Oompie Meyer, voorgelees is.
In sy boodskap het hy onder andere gesê dat Afrika besig is om die lig van die wêreld te word - en dit word deur volgehoue gebed bewerkstellig.
Onder die kunstenaars wat geestelike liedere gesing het, was vanjaar se wenner van die Idols-kompetisie, Elvis Blue van George.
Voor sy optrede het hy sy ondersteuners bedank en gesê dat die oowinning deel van Jesus se plan met hom is.
Sy sang was duidelik baie gewild en die skare het ritmies met hul hande omhoog gewuif terwyl hy sing.
Barnard het gesê dat hulle dankbaar is vir die groot aantal mense wat opgedaag het om saam dankie te sê en vir Mosselbaai en ander omliggende gebiede wat tans ‘n waternood het, te bid.
Hy het ook almal bedank wat ‘n bydrae tot die verwesenliking van die byeenkoms gemaak het.
Nog foto's hier: http://www.georgeherald.com/gallery.aspx?gpid=208&gid=5
Lesers is ook welkom om hulle foto’s van die geleentheid te stuur na tanya@groupeditors.co.za.
ARTIKEL: JANNIE MEYER
FOTO'S: PAULINE LOURENS
.jpg)
.jpg)