De Villiers het genoem dat hy na sy vier jaar as Springbokbreier steeds minstens 'n jaar by hoëvlakrugby betrokke sou wou bly om sy kennis aan die land se afrigters oor te dra, maar dit is van die hand gewys.
Sarra se nuutverkose komiteelede is John Ambraal, Ernest Vorster, Bertus Koen, Dawid Kamfer (voorsitter en stigter), Freddie Vaaltyn, Wayne Roberston en John Blou.
Op pad na Plattekloof
Vir die plakkaat-betoging hierdie Vrydag (28 Augustus) verwag Sarra die steun van sowat 300 mense. Sarra beplan om voor Saru se kantore in Plattekloof te betoog, alvorens die nasionale span vir die Wêreldbekerrugby aangekondig word.
"Ons gaan baklei vir alles wat ons voel onregverdig is," het Kamfer gesê. "Ons het die talent, ons soek net die geleentheid. Transformasie moet weg, ons het genoeg swart en bruin spelers. Daar is genoeg wat op meriete in die span kan speel."
Kamfer het verduidelik dat Sarra nie kort termyn planne het nie, maar lang termyn kyk na die toekoms van sport in Suid-Afrika. "Met eenwording het al die bruin mense se rugby-strukture weggeval. Ons het net eenvoudig aangesluit by die wit komponent. My liefde vir rugby het op die stadium net dood-gegaan. Ek het geen rugby oor die naweek gekyk nie. Ons soek 'n totale ommeswaai in sport."