GEORGE NUUS - Dis herfs, maar op Sondag 18 April het dit gevoel soos somer. Dit was 'n heerlike sonskyndag in die George-omgewing.
Die kwik het op 'n stadium by die 30°C gaan draai.
Talle mense het die strande in die gebied besoek en die warm dag benut voordat die winter oor 'n paar weke aanbreek.
Sonsambrele het koelte op die strande verskaf en by die braaiarea by Leentjiesklip het mense vleis gebraai en roosterkoeke gemaak.
Paaie was besig en veral die Kaaimansrivierpas tussen George en Wilderness het swaar verkeer gedra.
Talle mense het Sondag die heerlike weer benut en Leentjiesklip by Wilderness besoek. Daar is onder meer vleis gebraai en roosterkoeke gemaak. Claude Smart (links) van Parkdene het gaan proe hoe smaak die roosterkoek van Johanna (middel) en George Fry (regs) van Rosedale. Die deeg vir die roosterkoek is deur Marika Peterson, dogter van die Fry-egpaar geknie.
Die lang uitgestrekte strande by Wilderness was Sondag een van die gewilde uitspanlekke. Die son het warm geskyn en die kwik het hoog gestyg.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'