GEORGE NUUS - Môreoggend (Dinsdag 8 Augustus) om 01:00 vertrek twee busse met 90 DA-lede vanaf George na Kaapstad, vir deelname aan ‘n optog wat die bedanking van president Jacob Zuma eis.
Parlementslede stem Dinsdag (môre) in die geheim vir die 8ste mosie van wantroue wat teen president Zuma ingestel is.
Volgens die DA se politieke hoof in George, Tertuis Simmers, gaan altesaam 13 busse uit die streek na Kaapstad reis om hieraan deel te neem.
“Dit is sowat 600 DA-lede uit die streek,” het hy gesê. “Onder die opgewonde lede is jeugdiges en bejaardes, sowel as vyf lede van Haarlem en vyf van Uniondale. Van hierdie mense het nog nooit aan ‘n optog van hierdie skaal deelgeneem nie.” Na verwagting gaan 10 tot 15 000 optoggangers, waarvan die oorgrote meerderheid DA-lede gaan wees, aan die optog in Kaapstad deelneem. Die ANC gaan terselfdertyd ook ‘n optog hou, ter ondersteuning van Zuma.
Die anti-Zuma optog skop af om 11:00 in die Keizersgracht-parkeerarea, naby die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie (KSUT,), en sal in St John’s-straat afbeweeg. Die pro-Zuma optog vind plaas in Pleinstraat. Die polisie word in Roelandstraat, tussen die twee groepe, ontplooi.
ANC-voorsitter van die George-substreek, Langa Langa, het bevestig dat die plaaslike ANC nie aan die optog in Kaapstad gaan deelneem nie. “Ons moet die finansiële implikasie van so ‘n deelname in ag neem,” het Langa gesê. “Ons ondersteun egter die ANC, sy strukture en leierskap ten volle.”
Volgens Simmers word die optog deur die DA en ander opposisiepartye beskou as ‘n geskiedkundige oomblik vir landsburgers, gegewe die konteks van geheime stemming. “Vir baie mense gaan dit die grootste optog wees waaraan hulle nog ooit deelgeneem het. Almal is opgewonde, ek was laas deel van so ‘n optog in Johannesburg in 2013 met die Youth Wage Subsidy-optog.”
Lees 'n verwante artikel: The secret is out
ARTIKEL: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'