GEORGE NUUS - 'n Brief aan die inwoners van die George munisipale streek van Burgemeester Leon van Wyk verskyn elke twee weke in die George Herald.
Tydens voorbereidinge vir die 2021-22 konsepbegroting het dit duidelik geword dat George se behoeftes vir grootmaat infrastruktuur die beskikbare kapitaal befondsing sou oorskry.
Samesprekings is toe tussen myself as burgemeester, die munisipale bestuurder, die hoof- finansiële beampte en senior lede van die direktoraat siviele ingenieursdienste se personeel gehou.
Daar is toe besluit om nasionale tesourie te nader om hulle advies en hulp te in om addisionele befondsing te bekom om die nodige uitbreidings aan die infrastruktuur aan te pak. Hierdie gesprek het George se groei oor die afgelope dekade inaggeneem.
Die konstruksiebedryf se projekte (insluitend die op regerings-befondse behuising) in hierdie tydperk het druk op die beskikbare watersuiweringswerke en rioolsuiweringswerke kapasiteit geplaas.
Na hierdie gesprekke gehou is, is daar aanbeveel dat die munisipaliteit vir 'n infrastruktuurbefondsing fasiliteit aansoek moet doen wat gewoonlik net toeganklik sou wees vir die groot metropolitaanse stede.
Na aanleiding hiervan is 'n komplekse befondsingsaansoek vir R1 102m met die behulp van kundige adviseurs saamgestel met die klem op grootmaat waterinfrastruktuur. Die aansoek behels opgraderings om die waterwerke se daaglikse suiweringskapasiteit te verhoog van 40Ml tot 60Ml.
Tesame met ander verwante werke beloop hierdie opgraderings 'n bedrag van R924m. Die verdere konstruksie vir projekte in Thembalethu en Pacaltsdorp behels R178m oor 'n tydperk van 4 tot 5 jaar. Hierdie aansoek word as die "miljardrand aansoek" beskryf.
Tesame met hierdie aansoek, is navorsing op ander projekte ook gedoen en met voornemende befondsers bespreek.
Die beoordeling van hierdie miljardrand aansoek is reeds vir die afgelope maande aan die gang.
Die munisipaliteit is onlangs versoek om toe te sien dat beplanning in diepte gedoen word en dat die voorsienings-kanaalprosesse in plek gesit word om die projekte te begin. Terwyl die besluit eers oor 'n maand of twee bekendgemaak sal word, is daar kennis gegee dat 'n toekenning van R81m binnekort oorbetaal gaan word. Hierdie toekenning word beskou as die aanvanklike befondsing vir die projek.
Tydens die bespreking oor die aansoek is daar beklemtoon dat George ekonomiese groei moet bevorder. Die 50% verhoging in beskikbare wateruiweringskapasiteit tesame met soortgelyke verhogings by die rioolsuiweringsaanlegte sal groei in konstruksie-aktiwiteite vir die volgende dekade aanmoedig.
Die vordering wat tot dusver gemaak is om infrastruktuur kapasiteit te verhoog sal toesien dat die kapitaalbegroting van die munisipaliteit heroorweeg moet word om voorsiening te maak vir verdere spandering op elektrisiteit, paaie, stormwater en ander belangrike infrastruktuur.
Ons glo dat hierdie spandering op infrastruktuur, nuwe beleggings in George sal bevorder asook addisionele werkverskaffing verseker.
Tans is ons alreeds bewus van beleggings wat in die landbou, hospitaal en administrasie bedrywe gemaak gaan word. Hierdie werksgeleenthede is van kritiese belang vir ons inwoners.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'