GEORGE NUUS - Drie mans van George is verlede Vrydagmiddag, 24 April, aangekeer toe hulle ses bokse brandewyn en twee bottels rum na Oudtshoorn wou smokkel.
Die verdagtes, wat in 'n Corsa-bakkie gery het, is kort na 13:00 naby die T-aansluiting tussen George, Uniondale en Oudtshoorn in 'n roetine-padversperring aangekeer vir die onwettige vervoer van alkohol gedurende die tydperk van nasionale inperking.
Die verdagtes is later uit die George-polisie se aanhoudingselle op 'n waarskuwing vrygelaat en sal later in die George-hof verskyn.
In nog 'n voorval op dieselfde dag het lede van die honde-eenheid twee verdagtes, 30 en 36 jaar oud, in Lawaaikamp aangekeer vir die besit van dwelms.
Volgens inligting het die polisie die verdagte wit Ford Icon-motor in Charlie Hugostraat opgemerk. Die voertuig het weggejaag en in 'n wilde jaagtog deur die strate van Lawaaikamp en Borcherds verskeie voetgangers rakelings gemis, voordat dit deur 'n houtheining in Badnallstraat gejaag het.
Die polisie het duisende rande in kontant en 299 Mandrax-tablette in die voertuig gevind.
Die verdagtes, buitelandse burgers van onderskeidelik van Lawaaikamp en Thembalethu, is op borgtog vrygelaat.
George Herald kon nie die borgtogbedrag en die volgende hofdatum vas stel nie.
Foto's: verskaf
Die twee verdagtes wat in Lawaaikamp vir die besit van dwelms aangekeer is, lê geboei buite die voertuig.
Die Mandrax-tablette se straatwaarde beloop sowat R20 000.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'