Update
GEORGE NUUS - Die brande wat die afgelope vier weke in die Suid-Kaap gewoed het, is grotendeels onder beheer en die gesamentlike brandbeheersentrum by die Garden Route-distriksmunisipaliteit in George het sy werksaamhede afgeskaal.
Welkome reën het Dinsdagaand in George geval en dit het beslis gehelp. 'n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Weerdiens se kantoor op die George-lughawe sê dat 63,2 mm reën van Dinsdag 08:00 tot Woensdag 08:00 geval het.
Kommer bestaan egter nou dat modderstortings kan voorkom en teen saktyd is bevestig 'n rotsstorting het die Sewepassepad tussen George en Wildernesshoogte gedeeltelik versper.
Nandi Mgwadlamba, woordvoerder van Sanparke, het in 'n verklaring gesê altesaam 78 mm en 80 mm reën is onderskeidelik by Diepwalle en Gouna gemeet. Sowat 56 mm is by Sanparke se hawehoof op Thesen Island, Knysna gemeet. Dit is steeds onduidelik of die gebied wat deur die brande geraak is, tot provinsiale rampgebied verklaar gaan word. George Herald het egter betroubaar verneem dit is onwaarskynlik, en dat 'n herstelplan in werking gestel sal word.
Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, het by monde van sy woordvoerder, James-Brent Styan, gesê provinsiale rampbestuur oorweeg nog alle opsies. "Ons is versigtig optimisties dat die situasie in die Suid-Kaap onder beheer is."
Hy het egter gewaarsku dat die risiko vir brande in die komende maande hoog is.
Oor hoe die ondersoek na die oorsaak van die brande, en veral die brand wat op 24 Oktober by Herold begin het, vorder, het hy navrae na die Garden Route-distriksmunisipaliteit en die plaaslike owerhede verwys wat die ondersoeke hanteer. 'n Navraag in die verband is aan die verskeie rolspelers gestuur en word binnekort verwag.
Luidens 'n verklaring van die Gesamentlike Beheersentrum van die Garden Route-distriksmunisipaliteit, is die vuurlyne by Jonkersberg tot by die Outeniquapas geblus. Dieselfde is van toepassing op Waboomskraal.
Noord-wes van Jonkersberg word die situasie dopgehou. Die vuurlyne by Spitskop/Dubbelberg, Garciapas, Buffelsnek/Kransbos is ook geblus. By Diepwalle/Gouna is daar nog 'n klein gebied wat smeul. Die situasie word dopgehou.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'