GEORGE NUUS - Dit is weer sulke tyd. Nasionale Braaidag (24 September, Erfenisdag) en natuurlik, braaivleis is op almal se lippe.
Die vraag is net waar gaan jy en jou vriende 'n vuurtjie aansteek?
Diegene wat avontuurlustig is en nie 'n gewone huisbraai wil hou nie, kan kies tussen 'n paar plekke in George en die omgewing.
Met die aanloop van verlede jaar se Braaidagvieringe het Jan Braai en die braaispanne van die Nasionale Braai-toer uitgekamp by Wilderness Nasionale Park.
Dagbesoekers kan teen 'n dagfooi van R37 (volwassenes) en R18 (kinders ouderdom 2 tot 11) die park geniet en by die aangewese braaiplekke ietsie op die kole gooi.
Die park is oop vir dagbesoekers van 07:00 tot 18:00. Island Lake-vakansieoord net om die draai, bied dieselfde gerief vir dagbesoekers.
Jan Braai (middel) saam met die Kaapse braaispan Vetpret tydens hul besoek verlede jaar aan die Wilderness Nasionale Park Ebb & Flow. Van links is Hendrien en Lucas van der Schyff, Jan Braai, Herman Solomon en Martin Smith.
Heroldsbaai en Victoriabaai is beide nabygeleë strande waar besoekers mag braai, by die aangewese braaigeriewe.
Die braaiplek by Heroldsbaai is langs die getypoel en by Victoriabaai is braaiplekke op die grasperk voor die strandarea geleë. By Leentjiesklip in Wilderness, langs die parkeerarea, is enkele braaigeriewe beskikbaar, asook by Gwaiingriviermond in Hansmoeskraal.
Munisipale woordvoerder Chantel Edwards-Klose, het bevestig dat die publiek slegs by die aangewese braaiareas mag braai. "Geen braaiaktiwiteite word op die gras, in die parkeerareas of op die strand toegelaat nie," het sy gesê.
Die braaiarea by Heroldsbaai, langs die getypoel.
George-munisipaliteit het kennisgewingborde by al die strande wat aandui watter aktiwiteite toegelaat word. Braaiery by strande word dwarsdeur die jaar slegs tussen 06:00 en 18:00 toegelaat.
Waar jy ook al besluit om te braai, geniet dit in die gees van samehorigheid. In Jan Braai se woorde: "'n Braai in die Vrystaat is 'n braai in Soweto. Jy kan die rook enige plek ruik oor die naweek, waar jy ook al gaan."
ARTIKEL EN FOTO'S: MICHELLE PIENAAR, GEORGE HERALD JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'