GEORGE NUUS - Daar is vir die eerste keer in baie jare bou-aktiwiteit by die Le Grand-landgoed buite Pacaltsdorp waar slegs enkele huise tot op hede ontwikkel is.
Volgens die landgoedbestuurder, Johan van der Merwe, het vyf nuwe ontwikkelaars erwe gekoop om te ontwikkel. Grondwerke vir vier van nege nuwe huise wat deur onder andere Excellence-boukontrakteurs beplan word, het verlede week begin.
Volgens Van der Merwe was die grondpad na Le Grand een van die redes waarom ontwikkeling hier vir jare nie van die grond af kon kom nie. Hy pleit al vir jare saam met ander inwoners van die Hansmoeskraal-omgewing by die George-munisipaliteit en provinsiale vervoerdepartement om die pad te teer.
Die owerhede se verweer was tot dusver dat die teer van die pad 'n ontwikkelingsvoorwaarde was vir die eertydse gholflandgoedonwikkeling. Van der Merwe hou vol dat dié ontwikkelingsvoorwaarde nie meer geldig is nie omdat die oorspronklike eienaar bankrot is. Verskeie ontwikkelaars het deur die jare belangstelling in die landgoed getoon, maar geen projek het van die grond af gekom nie. Enkele privaat eienaars het huise opgerig.
'n Grootskaalse bemarkingsveldtog is in Desember verlede jaar en weer gedurende die afgelope wintervakansie van stapel gestuur. Dit het gelei tot 'n skielike oplewing in verkope en 48 erwe is opgeraap.
Verlede week het hy gesê komende Desember sal twee skouhuise voltooi wees vir wanneer die besoekers aanland. "Verkope gaan steeds baie goed en ek glo noudat ons begin bou, sal dit nog meer momentum optel. Die vervoerminister, Donald Grant het gesê as hier 80 gesinne gevestig is, sal hulle dit oorweeg om die pad te teer."
Van der Merwe is hoopvol dat hierdie mikpunt nou vinnig gaan realiseer.
'n Navraag oor die moontlike teer van die pad is aan die provinsiale vervoerdepartement gestuur en 'n antwoord word afgewag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'