GEORGE NUUS - 'n Beroep word gedoen op die gemeenskap vir skenkings vir die uitreike van Harmony Spiritual and Emotional Healing Centre wat fokus op die verbetering van kinderlewens in van die arm gemeenskappe in George.
Daar is 'n dringende behoefte aan voedsame kos, maar Harmony fokus ook op holistiese oplossings sodat mense in hierdie gemeenskappe uiteindelik meer selfonderhoudend kan wees om beter vir die kinders te sorg.
Kersgeskenke vir kinders en bejaardes
Liane Venter, Harmony se stigter, sê R150 per maand per kind sal verseker dat een kind ten minste een voedsame maaltyd per dag kry.
As deel van geldinsamelingspogings, verkoop Harmony ook gefortifiseerde hondebeskuitjies teen R115 per kg, 'n gesonde peuselhappie vir jou beste vriend. Dit bevat insekproteïen (Entomeal) en klein hoeveelhede brouersgis.
Verder wil Harmony vir soveel moontlik kinders en bejaardes 'n Kersgeskenk gee as deel van hul 'Blessing in a Box'-projek. Mense kan kontantdonasies maak of 'n pakkie pak vir 'n senior burger of kind.
Die pakkie moet nie-bederfbare lekkernye en basiese selfsorgprodukte soos seep en tandepasta bevat, asook iets spesiaals spesifiek vir 'n vrou (byvoorbeeld lipstif), man (byvoorbeeld naskeermiddel) of 'n kind (opvoedkundige items, 'n speelding of kledingstuk).
Mense kan ook R250 skenk sodat 'n geskenkpakkie opgemaak kan word. Harmony sal 'n foto aan die skenker stuur van sy/haar pakkie wat afgelewer word.
Kontak Liane Venter vir meer inligting by 076 240 2347 of venterliane@gmail.com.
Liane Venter deel kospakkies in Rosemoor uit.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'