Update
GEORGE NUUS - Dit gaan beter met Bokkie, die hond van Borcherds wat onlangs 'n nagmerrie moes deurmaak. Maar, haar stryd is nog lank nie verby nie.
Bokkie is tans onder intensiewe sorg by die People's Dispensary for Sick Animals (PDSA) in Conville nadat sy op Sondag 30 Maart erg beseer en vir dood agtergelaat is.
Volgens Marileen Greeff van Borcherds Paws, is Bokkie vermoedelik deur 'n slang gepik en daarna deur twee groot honde aangeval toe sy uit Brucestraat geloop het om kos te gaan soek.
Tot oormaat van ramp, is sy ná als, deur iemand in 'n stormwaterpyp gegooi en vir dood gelos. Dit het toe ook begin reën.
Gelukkig het 'n plaaslike diereliefhebber van Bokkie te hore gekom en dadelik na haar begin soek. Die volgende dag het hy die skaars-lewendige hond in die pyp gevind en uitgehaal.
Hy het onmiddellik vir Greeff gebel en hulle het Bokkie na die PDSA geneem.
"Sy was basies dood toe ons haar gekry het," vertel Greeff. "Haar lyfie was só koud dat die veearts nie eens 'n temperatuur kon kry nie."
Die span by die PDSA het onverpoos gewerk om haar lewe te red – met 'n haardroër om haar liggaam stadig te verwarm en 'n verwarmde drup. Vandag lyk sy reeds beter, maar daar lê nog 'n lang pad na volle herstel voor.
Greeff help elke week talle honde in Borcherds - nie net met kos nie, maar ook met sterilisasie en basiese mediese sorg.
Enigeen wat haar graag wil help met kos, medisyne, vlooi- en bosluismiddel of 'n bydrae tot haar veeartsrekening wil maak, is welkom om 'n donasie te maak. Inbetalings kan direk in die PDSA-rekening gedoen word met die verwysing Borcherds Paws.
"Elke R10 maak 'n verskil," sê sy.
Sy is 'n onwrikbare krag waarmee rekening gehou moet word wanneer dit by dierewelsyn kom. Vir jare voer en behandel sy al vrywillig honderde honde in Borcherds. Maar om hiermee voort te gaan, het sy hulp en skenkings van die gemeenskap en ons besoekers nodig om haar projek, Borcherds Paws, aan die gang te hou en sodoende nóg meer diere te help.
Vir meer inligting of om te help, kontak Marileen Greeff by 066 174 3239.
Bokkie herstel tans by die PDSA in Conville.
Vorige artikels:
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’