GEORGE NUUS - Moenie paniekerig raak en nou emosionele besluite neem nie. Dit is die raad van finansiële adviseurs oor die ekonomiese uitdagings waarmee mense daagliks te doen kry na aanleiding van die koronavirus.
Vrae het by mense ontstaan oor wat hulle nou te doen staan. Volgens finansiële adviseurs kontak kliënte hul daagliks oor die pad vorentoe.
Koos du Plessis, 'n finansiële adviseur van George, het gesê dinge is deurmekaar en niemand weet regtig wat gaan gebeur nie. "My advies is moenie paniekerig wees nie. Wees gereed dat die gebeure vir twee maande kan aanhou. Dit kan selfs langer wees."
Moenie sommer verkoop nie (soos aandele). As iemand los geld het, kan hy/sy dit in konserwatiewe aandele belê. Hou in gedagte dat die lae rentekoers kan help as iemand nog 'n huisverband het.
Volgens Du Plessis is dit nou belangrik dat mense 'n begroting in plek het.
Die begroting moet in twee dele verdeel word:
- Die eerste prioriteit is verpligte uitgawes, soos byvoorbeeld 'n huisverband.
- Daarna kom diskresionêre uitgawes. Dit is byvoorbeeld luukshede.
Johan Lochner, finansiële adviseur van PSG Wealth, het gesê dit is nou 'n baie goeie tyd vir mense om hul finansiële situasie in heroënskou te neem.
Kry eerder professionele hulp en baseer besluite op feite. Moenie emosionele besluite neem nie.
Die impak is internasionaal en nasionaal. "Dit beteken almal is in dieselfde bootjie. Ons hier in Afrika is nie geïsoleer nie."
Sy advies aan mense wat met finansiële uitdagings oor hul verpligtinge te doen kry, is om met die owerhede en finansiële instellings te gaan praat.
Hy het daarop gewys dat daar in die verlede ook finansiële krisisse voorgekom het.
Dit is nou die perfekte tyd om te belê.
Sien dit teen die agtergrond dat in die algeheel aandeel-pryse omtrent 30% laer is.
Financial advisors say that people shouldn't panic and make emotional decisions in these challenging times caused by the coronavirus. People are advised to stay calm, put a budget in place and make decisions based on facts.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'