GEORGE NUUS - Die uilboks by die NG gemeente Blanco het nuwe intrekkers.
Ds Francois Mulder, een van die gemeenteleraars, het Woensdag 11 September gaan ondersoek instel en vier baba-uiltjies knus in die boks gevind.
Mulder se foto's en video's van die grootwordproses van 'n broeisel kuikens wat tydens die Covid-inperking in 2020 in die kerk se kloktoring ontdek is, het George Herald-lesers destyds gefassineer.
Hy het lesers ingelig gehou oor die uiltjies se vordering tot die laaste een uit die nes uitgevlieg het. Toe was daar vyf kuikens en die gemeentelede het deelgeneem aan 'n kompetisie om vir die hele gesin "kerkuile" name te gee.
Die kuikens is later van die kloktoring na 'n meer geskikte tuiste verskuif - 'n uilboks in 'n hoë boom.
Bertus Beukes, eienaar van die Tuinroete-rehabilitasiesentrum vir roofvoëls (Garden Route Birds of Prey Rehab Centre), en Joshua Kleyn van Exclusive Eco het gehelp met die verhuising.
Mulder sê hulle tuinman het hom daarop attent gemaak dat daar weer uiltjies in die boks is en hulle is baie in hulle skik dat nog 'n broeisel op die kerkterrein kan grootword. Dit is weer nonnietjiesuile soos die 2020-broeisel.
Volgens Bertus Beukes, eienaar van die rehabilitasiesentrum, sal dit kleintjies wees van dieselfde broeipaar van 2020. "Uile is territoriaal en sal hul kinders wegjaag wat dalk daar wil kom broei. 'n Uil trek nie sommer in 'n uilboks in nie."
Tydens broeityd, soos nou, is daar gewoonlik 'n toename in uilkuikens wat die publiek na die sentrum toe bring.
"Die baba-uile groei vinning, veral die gevlekte-ooruil (spotted eagle owl), en hier rondom 35 dae begin hulle rondloop. Dis wanneer mense hulle optel omdat hulle dink dat die uiltjie nie meer gevoer gaan word nie, maar die ma kan hulle van so ver as 100 meter weg hoor skreeu en sal vir hulle kos bring."
Beukes sê baie mense sal die kuiken eers 'n ruk by die huis aanhou voordat hulle dit na die sentrum toe bring. "Hulle is nie altyd eerlik oor hoe lank die kuiken by hulle was nie. Ek kan aan 'n kuiken se magie voel en die gewig verklap ook of hulle geëet het of nie.
"Ons moet hulle onder dwang voer vir die eerste twee dae, andersins eet hulle nie. Mense moet eerder dat die natuur sy ding doen en nie die kuikens optel nie.
"As 'n kuiken vir 'n dag of twee weg is, sal die ma dink hy is dood. Dit help dan nie om die kleintjie terug te neem na waar hy opgetel is nie."
VIDEO: Kyk na Francois Mulder se video van die uiltjies
'n Inwoner van Dennoord, Esté Smit, het hierdie foto ingestuur van 'n gevlekte-ooruil wat in hul woonbuurt rondbeweeg en homself gereeld in 'n boom op hul erf tuismaak.
Verwante artikels:
- Die wel en wee van Blanco se uiltjies nou landswyd bekend
- Ds Francois praat oor sy uil-kuikens
- Kerktoring-uile kry nuwe tuiste
- Uilkuikens in kloktoring verskaf gemeentepret
- Dominee en uil skrik ewe groot
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’