Update
GEORGE NUUS - Die natuur gaan ongestoord sy gang tydens inperking en sorg selfs vir 'n bietjie afleiding vir gemeentelede van die Blanco NG kerk.
Vyf Nonnetjie-uil-kuikens het uitgebroei in 'n nes in die kloktoring.
Een van die gemeenteleraars, ds. Francois Mulder, het die nes met eiers 'n paar weke gelede ontdek toe hy tydens Paasnaweek op Opstandingsondag in die toring opgeklim het om die klok te lui saam met 'n klomp ander gemeentes in George. Hy het die nes opgemerk in die hoekie van 'n platform langs die trappe op pad boontoe.
Die klok is vir jare nie gelui nie omdat die tou gebreek het, maar sedert Paassondag klim Mulder elke Sondag op om die klok om 10:00 met die hand te lui om die oggenddiens se uitsending op YouTube aan te kondig. Die tou van die klok is intussen herstel, maar hy gaan loer steeds elke Sondag hoe die Churchowl-familie vorder.
Tydens sy inspeksies is hy eers beloon met twee donserige bondeltjies in die nes.
"Ek het op Opstandingsondag die klok drie minute gelui, maar daarna net 'n minuut, en die laaste twee Sondae net 30 sekondes ter wille van die klein uiltjies," sê hy. Vyf pare groot, donker oë hou hom sedertdien dop wanneer hy sy selfopgelegde Sondagoggend-taak gaan uitvoer.
Vier kuikens hou ds. Francois Mulder dop terwyl 'n vyfde enetjie se oë nog toe is. Die ma-uil lê gewoonlik nie al die eiers op een slag nie en kuikens broei dus nie saam uit nie. Mulder sê op die eerste Sondag wat hy kuikens gekry het, was daar twee en die volgende Sondag nog drie.
Sy vrou, Karina, het 'n pragtige waterverfskildery van 'n nonnetjieuil gemaak na aanleiding van die kosbare vonds in die toring.
'n Kompetisie is op die kerk se Facebookblad van stapel gestuur om name vir die kroos te kry. Voorstelle wissel van Winston Churchowl en Albus Churchowl tot Fransina en Francoislina (om aan hul 'peetpa' erkenning te gee), en Klokkie en Torinkie.
• Volgens die Barn Owl Trust in Engeland, bly die ma-uil in die nes om die kuikens warm te hou vir ten minste die eerste drie weke nadat hulle uitgebroei het omdat hulle dan net met sagte donsveertjies bedek is. Die pa moet sorg vir kos en sal klein soogdiertjies nes toe bring wat die ma in klein stukkies skeur om vir haar kuikens te voer. Teen hul derde week kan 'n kuiken al 'n klein muis heel insluk.
Vorige artikel: Dominee en uil skrik ewe groot
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'