GEORGE NUUS - Oor die lengte en breedte van Suid-Afrika weet mense nou meer van die vyf nonnietjiesuilkuikens wat tydens inperking in die Blanco NG kerk se kloktoring uitgebroei het, en gehelp het om hoop vir mense te gee.
Ds. Francois Mulder, 'n leraar van die gemeente, was vanoggend (Sondagoggend 21 Junie) ‘n gas op RSG se Sondagjoernaal program wat tussen 7:00 en 8:00 uitgesaai is. Lizelle de Bruin het met hom gesels.
Mulder het die uilnes in die toring ontdek in die begindae van inperking. Hy moes in die kloktoring opklim om die klok vir die eerste keer in 'n lang tyd op Opstandingsondag tydens Paasnaweek te lui nadat die tou 'n paar jaar gelede gebreek het. Sedertdien het verskeie mense die wel en wee van die uiltjies gevolg.
Mulder het tydens die onderhoud vertel van die aanloop van die gebeure wat aanleiding gee het tot die besonderse ervaring wat die gemeente en hy gehad het tussen Opstanding- en Pinkster-Sondag. Hy het vertel wat dit vir hulle beteken.
Volgens Mulder is die uiltjies op 31 Mei, Pinkster-Sondag geskuif na ‘n boom op die kerkterrein. Die gemeente was betrokke by die gebeure rondom die uiltjies. Hulle het selfs name vir hulle gegee en gehelp.
Op die oomblik is daar vier klein uiltjies oor. Vir die gemeente was die ontdekking van die eiertjies op Opstandingsondag ‘n teken van nuwe lewe. In die huidige tyd kon die gemeente nie fisies in die kerk kom nie en hulle moes daarbuite leef. Dit is gedoen deur die krag van die Gees.
Mulder het gesê in ‘n stadium gaan die klein uiltjies leer vlieg. So moet die Kerk uitgaan en die boodskap van nuwe lewe bring.
Verwante artikels:
- Ds Francois praat oor sy uil-kuikens
- Kerktoring-uile kry nuwe tuiste
- Uilkuikens in kloktoring verskaf gemeentepret
- Dominee en uil skrik ewe groot
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'