GEORGE NUUS - ’n Welbekende politikus van George - deesdae 'n lid van die Wes-Kaapse parlement - het vanoggend sy eerste verskyning in die George-landdroshof gemaak, nadat hy gister, Dinsdag 14 April, in hegtenis geneem is op aanklagte van mensehandel, verkragting en seksuele uitbuiting.
Inwoners wat die belange van die beweerde slagoffer verteenwoordig, het vanoggend by die hof saamgedrom.
Volgens beskikbare inligting was die slagoffer glo tussen 12 en 17 jaar oud toe die beweerde voorvalle plaasgevind het.
Die verdagte se regsverteenwoordiger, Nico Smit, het in die hof aangevoer dat die aanklag wat die polisie gistermiddag aan sy kliënt voorgelees het, en die aanklagte soos uitgelees in die hof deur die landdros, verskil. Konsultasie het daarna gevolg, en word die verdagte later vandag weer in die hof verwag.
Die afgelope paar weke is daar veral op sosiale media oor die saak bespiegel. Die LPP se politieke party het egter alle beweringe teen hom ontken en die media gevra om hulle nie aan skinderpraatjies te steur nie.
*Beskuldigde se naam weerhou op regsadvies.
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’