GEORGE NUUS - Die begroting was billik, maar die marge vir foute is baie klein. So sê dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi, wat verlede Woensdag, 22 Februarie, self die begrotingsrede in Kaapstad bygewoon het.
Cilliers, wat ook die voorsitter van die George-sakekamer is, was ook die aand saam met ministers en sakeleiers 'n genooide gas by 'n geleentheid wat deur Nedbank/Old Mutual aangebied is.
Cilliers het Dinsdag gesê dit is 'n mense-begroting waarin daar byvoorbeeld geen verhoogde brandstofheffing aangekondig is nie. Die petrolprys het egter Woensdag 1 Maart skerp gestyg, so dis goed motoriste en pendelaars is 'n heffingverhoging gespaar. Petrol kos nou R1,27per liter meer.
Voorts was daar 'n aankondiging van 5% verhoging in staatstoelaes - 48% Suid-Afrikaners ontvang een of ander staatstoelaag.
Suid-Afrikaners wat sonpanele by wonings installeer tussen 1 Maart 2023 en einde Februarie 2024, sal 25% van die koste tot R15 000, van hul jaarlikse belastingopgawe kan verhaal.
Daar is ook geen styging in individuele belasting aangekondig nie, behalwe die styging in belastingkerwe wat in lyn is met inflasie.
'n Paar dinge staan vir hom uit. Een daarvan is dat gekyk word na volhoubare kragverskaffing van Eskom en alternatiewe krag.
'n Bekommernis is dat die staat se salarisrekening bykans 40% van die staat se uitgawes beloop.
Nog iets wat kommerwekkend is, is misdaad se impak op die ekonomie.
Hy glo dat dit baie belangrik gaan wees watter span pres. Cyril Ramaphosa gaan gebruik om sy planne te implementer.
Cilliers glo daar is moeilike tye wat vir verbruikers wag. Daar is die styging van kragtariewe wat later vanjaar in werking tree, rentekoersverhogings en die styging van die brandstofprys die week.
"Verbruikers sal volgens 'n streng begroting moet leef en kyk hoe hulle uitgawes kan sny."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'