GEORGE NUUS - 'n Bekende inwoner van George dr. Jaap Steenkamp en ander belanghebbendes ondersoek die moontlikheid om 'n belastingbetalersvereniging (BBV) vir George te stig.
Steenkamp het dit by navraag bevestig en benadruk dat dit geen politieke party is nie. Dit is apolities en as dit voortgaan sal dit beslis 'n drukgroep wees.
Dit sal nie aan die munisipale verkiesing deelneem nie. Individue kan aan die verkiesing deelneem en die organisasie sal nie 'n spesifieke party steun nie.
Volgens Steenkamp kom dit al 'n lang pad. Hy het gesprekke gevoer met mense wat sy sentiment deel.
Steenkamp het gesê hulle is in die algemeen nie tevrede met dienslewering nie. "Ons wil bloot verseker dat dienslewering effektief teen billike tariewe plaasvind. Ons wil ook verseker dat onder meer onderhoud van infrastruktuur plaasvind, omgewingsake en die voorsiening van water en vullis-verwydering aandag kry."
Wat hom betref behoort daar nie partypolitiek op die plaaslike regeringsfeer te wees nie. Hy glo dienslewering is besig om agter uit te gaan. By dit alles sukkel mense finansieel.
Hy het self beleef hoe swart sakke vir vullisverwydering nie altyd betyds opgetel word nie. Hy het dan van privaat kontrakteurs gebruik gemaak en dit uit sy eie sak betaal. Dit was laer as die heersende munisipale heffing daarvoor.
Hy glo die munisipaliteit kan dit uitkontrakteer teen 'n laer koste. "Mense betaal op die oomblik belasting en hulle kry nie altyd waarde vir geld nie."
Daar is ander dele van die land waar inwoners al self ingespring het om dienslewering te verseker. Dit mag nie tot op so 'n vlak in George daal nie.
Hy het voelers uitgesteek vir die stigting van 'n belastingbetalersvereniging en het positiewe terugvoer gekry. Steenkamp glo dis iets wat met tyd moet ontwikkel.
George-burgemeester, Leon van Wyk, het gesê hy is nie teen belastingbetalersverenigings nie. "Belastingbetalersverenigings vervul 'n belangrike rol in die gemeenskap." Volgens hom is daar 'n probleem met dienslewering soos byvoorbeeld vullisverwydering. Dit word aangespreek. Hy verwag 'n stelselmatige verbetering.
Hoe effektief is 'n belastingbetalersvereniging?
Chris Burlock van die Wilderness Ratepayers and Residents Association, het gesê die instansie is ongelooflik effektief. Hulle bestaan al 50 jaar en deelnemers betaal ledegeld.
Dit verg harde werk en toewyding. Hulle is betrokke by verskeie gemeenskapsprojekte en daar word nou saamgewerk met die wyksraadslid. Voorts word ook nou saamgewerk met ander belanghebbendes soos die George-munisipaliteit en SANParke. Die organisasie is a-polities en steun nie 'n bepaalde politieke party nie.
Well-known George resident Dr Jaap Steenkamp together with others are considering forming a ratepayers association in George, which will be strictly apolitical. George Mayor Leon van Wyk welcomed the initiative, saying ratepayers associations play an important role in the community.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'