GROOT-BRAKRIVIER NUUS - Die polisie op Groot-Brakrivier het 'n 24-jarige vrou van Greenhaven in hegtenis geneem nadat sy en die pa van hul 4-jarige dogter in 'n bakleiery betrokke was en sy hom met 'n baksteen gegooi het, wat die kind op haar kop getref het.
Polisiewoordvoerder kst Laurianne Botha sê die voorval het op Sondag, 13 Januarie in die laatmiddagure gebeur.
"Die kind was in die pa se arms tydens die voorval. Die verdagte wou die man met die baksteen gooi en dit het die kind op haar kop getref."
Die voorval het in Watsonialaan plaasgevind. Die slagoffer is per ambulans na 'n hospitaal op Mosselbaai geneem. Sy is daarna in haar pa se sorg vrygelaat waarna die polisie die vrou in hegtenis geneem het op 'n aanklag van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Die verdagte bly in aanhouding en sal vandag, op Dinsdag, 15 Januarie in die Mosselbaai-landdroshof verskyn.
'Ons bring jou die nuutste Groot-Brakrivier, Tuinroete nuus'