Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Kommer oor die behuisingsprojekte by Erf 325 Oos (langs Rosedale) het inwoners van Syferfontein en Rosedale die laaste paar weke tot betogings gedryf.
Die George Herald het wyd berig oor mense se vrese dat die huise beknop en klein gaan wees, met geen erwe nie. 'n Besoek by die terrein Maandagmiddag, saam met vier manne wat passievol is oor die projek, het 'n ander wêreld laat oopgaan.
Randall Booysen (senior terreinagent: Raubex), Danie Marais (operasionele direkteur: Raubex), Pieter Joubert (ingenieursverteenwoordiger: Royal HaskoningDHV) en Jacques Tredoux (konstruksiebestuurder: Asla) het die George Herald op 'n toer vergesel.
So gaan dit lyk
Die hele area is opgedeel in drie fases: Fase A, B en C. Tans is daar ontwikkeling op fases A en C. Raubex is die kontrakteur vir fase A, die area wat grens aan Beachweg en die Rosedale-pad. Dit is hierdie einste ontwikkeling wat die aandag van Syferfonteiners en Rosedalers trek, omdat dit van die pad af sigbaar is. Hier word die huise se fondasies tans gebou.
Hierdie ontwikkeling gaan beskik oor 173 wooneenhede wat gedeeltelik gesubsidieer word (Financial Linked Subsidy of Flisp eenhede), en 359 erwe.
Asla is die kontrakteur by fase C (langs fase A) in die rigting van Pacaltsdorp, waar hulle besig is om paaie te skraap en pypleidings te lê, alvorens die huise se fondasies gebou word. Fase C gaan beskik oor 679 huise wat ten volle deur die staat gesubsidieer word, oftewel Breaking-New-Ground (BNG) eenhede soos dit bekend staan, en 736 erwe.
Aan die stuur by fase A: Van links is Pieter Joubert (ingenieursverteenwoordiger van Royal HaskoningDHV), Danie Marais (operasionele bestuurder) en Randall Booysen (senior terreinagent).
Fase B lyk tans soos 'n groot groen grasperk aan die bokant van fase A, en sal later in drie dele ontwikkel word deur drie kleiner kontrakteurs, soos volg:
• Fase B1: PHP Building Supplies
(169 erwe en 169 BNG eenhede);
• Fase B2: Simply Do Construction
(175 erwe en 175 BNG eenhede);
• Fase B3: Enigma Built Environment
(224 erwe en 224 BNG eenhede).
Volgens Muneera Allie, 'n skakelbeampte van die Wes-Kaapse departement van menslike nedersettings, sal die volle projek met al drie fases na verwagting teen 2021 voltooi wees.
"Enige protesaksie en onluste binne die gemeenskappe sal 'n invloed hierop hê," het sy gesê.
Die begunstigdes vir hierdie hele ontwikkeling is nie slegs mense van Rosedale en Syferfontein nie. Tans is daar meer as 17 000 mense op die behuisingswaglys van George-munisipaliteit. Allie het bevestig dat dié lys geraadpleeg gaan word wanneer begunstigdes gekies word. Slegs diegene wat nog nie vantevore 'n gesubsidieerde huis ontvang het nie, sal oorweeg word.
By fase C word daar tans gefokus op ingenieurswerke, soos pypleiding en padbou.
Spasie vir die nasie
Soos inwoners en nuuskieriges van die pad af loer na die bouwerk by fase A, het vrese by mense ontstaan dat die huise bitter klein en beknop gaan wees. Tydens die George Herald se besoek was dit duidelik dat dinge meer rooskleurig is as wat dit op die oog af lyk.
Ofskoon van die Flisp-eenhede by fase A sy-aan-sy gebou word, met twee huise teen mekaar, is daar 'n gemaklike area rondom die huise wat inwoners in staat sal stel om 'n kar te parkeer, of selfs later 'n motorhuis te bou. Daar is ook genoeg spasie vir 'n wasgoedlyn.
Die erfgrense loop in sommige gevalle bult-op van die huis, maar dit gaan alles nog gelyk gemaak word.
Kyk 'n video hieronder:
Phila Mayisela, 'n direkteur van menslike nedersettings, het met 'n vorige navraag bevestig dat alle gesubsidieerde huise aan sekere standaarde moet voldoen. Tans is die grootte van 'n enkelverdieping BNG 40m², en 43m² vir 'n dubbelverdieping (om plek te maak vir 'n trap). "Die ontwikkeling op Erf 325 Oos voldoen ten volle aan die norme en standaarde," het Mayisela gesê.
"Toe gesubsidieerde behuising in die land ingestel is, was die standaard 17m² met 'n eksterne toilet. Die standaard is tans 40m² met twee slaapkamers, 'n sitkamer, 'n kombuis en 'n badkamer."
Die twee manne links, staan in die area waar twee woonhuise, sy-aan-sy, gebou gaan word. Die kalkstrepe (links en regs) dui die grootte van die erf vóór die huise aan. Daar is oorgenoeg spasie vir 'n wasgoedlyn en om motors te parkeer. Dié gedeelte sal gelyk gemaak word met die oppervlakte waar die huise gebou word. Foto's: Michelle Pienaar
Groeiende behoefte aan huise
Die Rosedale-ontwikkeling het in 2008 begin en 905 eenhede is voltooi. Reeds goedgekeurde planne vir verdere ontwikkeling is egter hersien, met verdigting in gedagte, om meer mense te akkommodeer.
Mayisela het gesê dat die groot behoefte aan gesubsidieerde behuising aanleiding gegee het tot 'n nasionale besluit om ontwikkelings te verdig, om meer gesinne te help.
"Ons het medium- tot hoë digtheidsprojekte in al die vinnig groeiende dorpe geïmplementeer, en oor die hele Tuinroete (Bitou, Knysna, Mosselbaai en Oudtshoorn). Hierdie benadering is dus nie slegs op George van toepassing nie."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'