GEORGE NUUS - Clive Ankiewicz het twee en 'n half jaar gelede, op die ouderdom van 67, 'n verskuilde skildertalent in homself ontdek.
As dit nie was dat 'n vreemdeling vir hom 'n esel en verf in die arms gestop het nie, sou hy waarskynlik nooit uitgevind het dat hy natuurlike aanleg met 'n verfkwas het nie.
Nou bied sy skilderye nie net vir hom 'n inkomste nie, maar hy leef sy nuutgevonde kreatiwiteit met geesdrif uit en ontdek nuwe tegnieke soos hy elke volgende skildery aanpak. Sy skilderye is realisties, warm en kleurvol.
Hy kombineer sy talent met sy ander vurige belangstelling: Veteraanmotors en treine.
Ankiewicz het die man wat vir hom die esel en verf gegee het by 'n vriend se huis ontmoet.
"Hy het gesê hy skilder nie meer nie en ek moet die goed vat."
Ankiewicz was verras toe hy sy eerste poging aanwend - sonder enige leiding - en 'n skaflike resultaat op die doek voor hom sien.
Hy is baie produktief en doen deesdae ook opdragwerk, waaronder ook muurskilder.
Sy twee jongste skilderye hang in die George-museum.
Een van sy bestes tot nog toe waaroor hy veral opgewonde is, is 'n toneel met 'n stoomtrein op 'n spoor tussen Bloemfontein en Kroonstad met geweldig baie detail.
Die twee skilderye wat in die George-museum hang. Ankiewicz is veral trots op die trein wat deur die landskap tussen Bloemfontein en Kroonstad stoom.
"Dit het my 52 ure geneem. Ek het sowat 16 000 klippies met 'n oorstokkie geteken.
"Die lokomotief en spoor was ook 'n uitdaging, want dit het baie fyn detail.
"Die omringende landskap, die eerste keer dat ek so 'n groot landskap skilder, het ek relatief vinnig gedoen."
Ankiewicz is oorspronklik van die Oos-Rand waar hy as trokonderdelebestuurder van 'n groot maatskappy gewerk en ook verfkontrakteurswerk gedoen het. Hy is nou vier jaar in George.
Hy is nie spyt dat hy nie jare terug reeds sy talent ontdek het nie.
"Dit was nie die regte plek en omstandighede nie. Ek sou nooit deur my skilderwerk die wonderlike mense ontmoet het wat nou as gevolg daarvan oor my pad kom nie.
Hy kan nie genoeg kry van skilder nie.
"Daar is 'n hele klomp mense wat my aanmoedig en bystaan, waaroor ek baie dankbaar is.
"Ek wil alle eer aan die Here gee vir hierdie gawe en ek is dankbaar vir waar ek nou is."
ARTIKEL & FOTO: ALIDA DE BEER, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'