Die 'sitter' is André van Zijl van wie mense al baie voorheen gelees het omdat hy kort-kort die een of ander rekorduitdaging aanpak. Hierdie is sy 50ste.
André se jongste poging - om vyf dae in die Slaweboom te sit - is om aandag te vestig op die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders, alle vigskinders asook die regte van mense met gestremdheid.
Hy het Vrydagmiddag om 14:00 sy sit in die boom gekry en sal daar wees tot Woensdag rondom etenstyd. Sy mikpunt is om meer as 100 uur in die boom deur te bring.
André sê sy sitvlak kry maar swaar. "Gerhard en Kotie Veldman van Aïda het darem vir my 'n sponskussing gebring. Die naweek se reënweer was maar ongemaklik en ek het nou nog nie warm geword nie. Ek kan nie wag om Woensdag in 'n bad te klim nie," het hy Maandagoggend aan die George Herald gesê.
André kry gelukkig lekker kos van omringende restaurante. "Simon van The Fat Fish het gesê ek kan enige tyd enigiets bestel wat ek wil hê en ek het al pasta van La Cappanina gehad." Die Protea Hotel Outeniqua oorkant die pad ondersteun hom ook.
Danksy sy elektroniese toerusting, bly hy 'op hoogte' van nuusgebeure, onder andere die minister van finansies se onverwagse afdanking en blitsige heraanstelling.
Sy water word geborg deur Oasis Water, en Penny Pinchers het vir hom 'n kabel aangelê sodat hy sy elektroniese toerusting kan laai. "Die mense is regtig wonderlik."

'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'