GEORGE NUUS - Magdalena Draai, beter bekend as Aunt Leen, van Touwsranten was in ekstase en absolute verwondering toe sy Saterdag 26 Augustus op 70-jarige ouderdom haar eerste verjaarsdagpartytjie ooit kon vier.
Mense uit die gemeenskap het saamgespan om haar verrassingspartytjie spesiaal te maak.
Aunt Leen sê die partytjie was so oulik beplan sy het niks vermoed nie.
Salomina Draai, Aunt Leen se jongste dogter en een van die beplanners sê die partytjie was 'n groot sukses. "My ma se vriende praat nou nog oor hoe lekker dit was," sê Salomina.
Magdalena is in 1947 in Langvlei gebore. Sy het vier kinders, twee dogters en twee seuns, en nege kleinkinders. Vanjaar vier sy en haar man, Andries Draai, hul 45ste huweliksherdenking.
Aunt Leen sê in 2000 het sy byna by die dood omgedraai, toe sy met kanker gediagnoseer is. Sy is vandag heeltemal genees en sê dis net die Here se genade dat sy nog elke dag kan leef.
Die 70-jarige vrou werk nog as huishulp vir 'n wonderlike werkgewer, Lin Stander.
Aunt Leen spot en sê: "Die rumatiek wil my nie los nie, maar wanneer ek by die huis is, sit ek nie vir 'n minuut stil nie."
Joanie Visagie-Jantjies, gemeenskapswerker, wat ook wat ook hand bygesit het, sê Aunt Leen het 'n liefde vir die gemeenskap en dis hoe hul paaie in 2012 gekruis het.
"Leen het vir die finansiering van 'n jongman, afkomstig van 'n arm familie, se begrafnis gesorg nadat hy homself in sy ouerhuis gehang het. Sy het met 'n lysie geloop om genoeg geld bymekaar te maak vir 'n graf vir die jongman.
"Daardie tyd het ek al geweet, ek sal nog lank met hierdie vrou, wat 'n hart het vir die gemeenskap, 'n pad kan loop. Sy is waarlik 'n seën vir die gemeenskap," sê Visagie-Jantjies.
ARTIKEL: BRÜMILDA SWARTBOOI, GEORGE HERALD
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'