GEORGE NUUS - Oewerstraat in George, wat oor die jare in Desember en Januarie bekend geword het vir die Kersliggies en versieringe, het 'n baie suksesvolle feesseisoen agter die rug sedert dit die eerste keer in 2002 aangebring is.
Dit het oor die jare gegroei en die meeste besoekers ooit het die straat van 6 Desember tot 2 Januarie besoek. Volgens die organiseerders was daar op sommige aande selfs sowat 'n 1 000 besoekers - van oud tot jonk.
Dit was die 23ste keer dat die liggies aangeskakel is en die afgelope feesseisoen was ook die eerste keer dat die nabygeleë Spruitstraat betrokke was. Die Kersliggievieringe het gewoonlik ook 'n goeie doel en word met 'n saak van verdienste gekombineer.
Tydens die afgelope feesseisoen kon besoekers goedere soos dierekos, komberse en dierespeelgoed vir die dierewelsynsinstansie, People's Dispensary for Sick Animals (PDSA), skenk. Na raming is sowat drie ton skenkings oor die tydperk ontvang.
Verskeie aktiwiteite is rondom die Kersliggies gehou. Instansies soos Nedbank-atletiek en MountCO het spontaan pretlope gedoen.
Die plan is om dit in die toekoms uit te brei en die hele buurt betrokke te kry. Daar gaan gekyk word hoe om dit vir gestremde en ouer persone makliker te maak.
Die plan is om die liggies vanjaar op 5 Desember aan te skakel en tot 2 Januarie te laat brand.
Baie dankie
Die organiseerders is dit eens dat dit sonder die hulp van borge, instansies en individue nie moontlik is om so iets te hou nie.
Daar was ook 'n spesiale besoek van Marais Kruger, burgemeester van die Tuinroete-distriksmunisipaliteit en Donovan Gultig, George-stadsraadslid vir wyk 18.
Ook 'n groot dankie aan die besoekers en almal word genooi na die volgende feesseisoen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’